GIHON

GIHON kom in twee verbande in die Ou Testament* voor.

  1. ‑Dit is ’n waterbron aan die voet van die oostelike hang van die tempelberg in Jerusalem*. Vandag is dit as die Maria-fontein bekend. Hier is Salomo* as ko­ning gesalf* (1 Kon 1:33-38). Dit was die belangrikste bron van watervoorsiening vir die stad in die Jebusitiese en Israe­l*itiese tyd. Vandaar vloei die water langs die berghang na die Siloah(m)-waterbron. Hiskia* het die waterbron afgesper, ’n onderaardse kanaal in die rotse uitgekap en na die westekant (binnekant) van die stadsmuur herlei (1 Kon 20:20; 2 Kron 32:30). Die water was deur ’n skag van die stad se kant af toeganklik. Hier­die Hiskia-kanaal is vandag nog toeganklik.
  2. ‑Een van die strome van die rivier in Eden* is ook die Gihon genoem (Gen 2:13). Die verband van die stroom met Kus, hetsy in Afrika* of Mesopotamië*, is onseker. Maar met Jerusalem as “middelpunt van die wêreld” en simbool van Eden, dui Gihon op die lewegewende waterstroom aan die rand van die stad. Hierdie mitiese waardering van Gihon vorm ook die basis vir die visioen in Esegiël* 47, waar ’n klein stroompie ’n om­vattende waterstroom word om lewe te gee. Hierdie perspektief kom ook in Ben-Sirag* 24:23-33 voor.
Sidebar