GILGAMESJ-EPOS

 

GILGAMESJ-EPOS is ’n antieke Babilo­niese* verhaal wat moontlik gebaseer is op ’n ouer Sumeriese verhaal (Kyk by: Sume­riërs) van Zuisudra. In sy Babiloniese vorm kan die verhaal waarskynlik gedateer word uit die tyd van die eerste Babiloniese dinastie (ongeveer 1800–1700 vC). Die epos handel oor Gilgamesj, ’n legendariese koning van die antieke Sumeriese stad Uruk (Erek), en sy soeke na onsterflikheid. In Gilgamesj se soeke na onsterflikheid besoek hy onder andere Utnapisjtim, die onsterflike held van die Babiloniese vloed.

In die bekende elfde tablet volg Utna­pisjtim se vertelling die Babiloniese vloedverhaal: Utnapisjtim word deur sy beskermergod, Ea (die magtige watergod van Sumerië), gewaarsku dat die gode besluit het om die aarde met ’n vloed te vernietig. Hy word deur Ea opdrag gegee om ’n skip te bou sodat alle soorte lewe op aarde behoue kan bly. Utnapisjtim bou daarna ’n skip waarin hy goud en silwer stoor asook voorbeelde van elke diersoort. Hy neem verder sy familie en allerhande soorte am­bags­manne in die skip voordat hy dit met pik dig verseël.

’n Geweldige storm bars los wat vir ses dae duur en so erg is dat dit die hele land be­dek en selfs die gode verskrik. Op die se­wende dag word die waters stil en Utna­pisjtim maak ’n venster in die skip oop. Hy sien dat die water besig is om te sak en dat sy skip op die berg Nisir gestrand het. Utna­pisjtim sien dat al die mense op aarde “in klei verander het” (dit wil sê: dood is). Ná ’n tyd stuur hy eers ’n duif, dan ’n swael en laastens ’n kraai uit om te kyk of die water voldoende gesak het om die skip te verlaat. Ná die vloed bring Utnapisjtim ’n offer aan die god En-lil en ontvang onsterflikheid van hom.

Utnapisjtim vertel verder aan Gilgamesj dat daar ’n plant op die bodem van die see is wat aan ’n mens ewige jeug kan verseker. Gilgamesj vind die plant, maar op pad terug sien hy ’n koue waterpoel en besluit om eers daarin af te koel. Terwyl hy in die poel swem, kom daar ’n slang op uit die water en steel die plant, waarna die slang onmiddellik vervel.

Die Gilgamesj-epos is heelwat ouer as die Bybelse vloedverhaal in Genesis* en toon baie ooreenkomste daarmee. Dit bete­ken egter nie noodwendig dat die Bybelse verhaal direk van die Babiloniese verhaal afgeskryf is nie, maar slegs dat daar in die Antieke Nabye Ooste sekere gemeenskaplike voorstellings van die aarde se vroeë geskiedenis was en dat hulle in ’n mate dieselfde mitologie gedeel het.

Sidebar