GLOBALE ETIEK

GLOBALE ETIEK is ’n projek wat ten doel het om gemeenskaplike morele* nor­me* te formuleer wat wêreldwye erkenning geniet. Dit berus op die oortuiging dat die proses van globalisering* ons toenemend met ekonomiese, politieke en ekologiese (Kyk by: Ekologie en godsdiens) probleme konfronteer wat wêreldwye implikasies het en globaal opgelos moet word. Hierdie globale probleme kan egter slegs op ’n mo­reel aanvaarbare manier hanteer word as daar afdoende konsensus in die wêreldgemeenskap bestaan oor die kriteria van menslikheid wat as uitgangspunt gebruik moet word.

Dié projek word veral met die Duitse Katolieke* teoloog Hans Küng* geassosieer. Hy is daarvan oortuig dat die bestaande wêreldgodsdienste ’n groot rol in die bevordering van wêreldvrede en ’n meer regverdige wêreldsamelewing kan speel. ’n Belangrike rede is dat hulle, na sy mening, bepaalde morele waardes deel wat as grondslag vir ’n wêreldmoraal kan dien. Onder sy invloed het die Parlement van Wêreldgodsdienste in 1993 in Chicago ’n Wêreldmoraal-ver­klaring uitgereik waarin ’n poging aange­wend is om dié gemeenskaplike morele norme te formuleer. Volgens hierdie ver­klaring erken al die wêreldgodsdienste vier morele verpligtings: tot ’n kultuur* van ge­weld­loosheid en eerbied vir die lewe*; tot ’n kultuur van solidariteit en ’n regverdige ekonomiese orde; tot ’n kultuur van verdraagsaamheid en ’n lewe van waaragtig­heid, en tot ’n kultuur van gelykheid en deelgenootskap van man en vrou*.

Vir verdere lees: H Küng 1991. Global Responsibility: In Search of a New World Ethic. Londen: SCM Press; H Küng en K-J Kuschel (red) 1993. A Global Ethic: The Declaration of the Parliament of the World’s Religions. Londen: SCM Press.

 

Sidebar