GLOBALISERING

GLOBALISERING verwys na ’n wêreld wat “kleiner” geword het. Vandaar die term “global village” wat met wêrelddorpie, aard­ge­huggie, dwergwêreld, vertaal kan word. Sosio-polities-ekonomiese aktiwiteite vind plaas ongeag deelnemers se geografiese lo­ka­liteit. Globale netwerke het drasties toegeneem, saam met ’n versnelling in vervoer, inligtings- en kommunikasiestelsels. Ver­snel­de migrasie maak deel uit van ’n nuwe transnasionale politiek, en stel groter eise aan stede en nasies. Kapitaal konsentreer in die hande van groot maatskappye, soms met ’n jaarlikse omset groter as dié van sommige lande.

Daar is groter globale bewustheid van wêreldgebeure soos “9/11” (Kyk by: Nine-eleven) of die tsoenami van 26 Desember 2005. Universele kultuurvorms kom tot ui­ting in musiek en modes. Gesondheids­probleme soos MIV* en vigs word globaal versprei deur die kombinasie van verbintenis en versnelling. Internasionale misdaad­-s­indikate gedy en word sigbaar in die handel van dwelms, wapens en mense.

Kritici reageer verskillend op globalise­ring. Sommige beskou die proses as onaf­wend­baar en betoog vir een wêreldekono­mie. Hulle meen dat toegankliker markte die beste geleentheid bied om armoede* uit te wis. Ander wys die negatiewe uit: ’n Klem op wins voor maatskaplike en omge­wingskostes; groeiende ongelykheid; die konsentrasie van mag en bronne in minder hande; ’n verlies aan biologiese en kulturele diversiteit; die krimpende gesag van die nasie-staat.

Die kerk* is grootliks afwesig in standaardwerke oor globalisering: óf omdat die kerk onkrities geabsorbeer is deur die nuwe orde, óf nie oor die vermoë beskik om analities-krities en geloofwaardig met die nuwe konteks in gesprek te wees nie. Andrew Davey stel die kerk voor as ’n transnasionale beweging wat globaal verbind, maar ook plaaslik gewortel is. Hierin lê die sleutel tot die kerk se kritiese betrokkenheid in die wêrelddorp: om plaaslike alternatiewe te ontwikkel en om globaal in profetiese solidariteit te wees.

Vir verdere lees: M Castells 20002. Volume III: The End of Millenium. Oxford/ Malden MA: Blackwell. S Sassen 1998. Globalization and its Discontents. New York: The New Press. S Sassen 20012. The Global City. New York, Londen, Tokio, Princeton NJ: Princeton University Press. A Davey 2001. Urban Christianity and Global Order. Londen: SPCK. P Heslam (red) 2004. Globalization and the Good. Londen: SPCK.

 

Sidebar