GLOSSOLALIE

GLOSSOLALIE, letterlik “tongspraak”, is een van die gawes* van die Gees* (alhoewel dit nie in die lyste in Rom 12:3-8 en Ef 4:11 voorkom nie), en verwys in die Nuwe Testament* na die gebruik van ander tale* (Hand 2:4, 6-8), maar meestal na euforiese uitsprake en optredes binne liturgiese* kontekste (Mark 16:17; Hand 10:46; 1 Kor 12; 14). Waarskynlik was dit ekstatiese uitroepe of gebedsagtige spraak as aanbidding* en kommunikasie, en het ooreenkomste met Hellenistiese* mantiese (eerder as verstaanbare) profetering getoon. Alhoewel verstaanbare profesie* en openbarings* (1 Kor 14:29-30) voorrang geniet bo glossolalie waarby die verstand afwesig is (1 Kor 14:14), word glossolalie nie verbied nie. Paulus* toon gemengde gevoelens oor glossolalie omdat dit in die gemeente* verwarring kan veroorsaak (1 Kor 14:11, 19), die verkeerde indruk onder buitestanders kan skep (1 Kor 14:23) en die orde en gepaste optrede kan kompromitteer (1 Kor 14:27-28). God is ’n God van orde en vrede (1 Kor 14:32) en ongebonde glossolalie kon ’n verkeerde in­druk skep en die aanbidding* van Chris­tus* as Here* in die wiele ry (1 Kor 12:1-3). By die beoefening van glossolalie is iemand met die charisma* van vertolking noodsaaklik sodat almal kan verstaan en daarby baat kan vind (1 Kor 12:10; 14:5, 28). (Kyk ook: Tale.)

Sidebar