GNOSTIEK

GNOSTIEK (ook: “gnosis”, “gnostisisme”) verwys na ’n godsdienstige fenomeen wat ongeveer in dieselfde tyd as die Christen­dom* ontstaan het. Dit is onduidelik of die gnostiek ooit onafhanklik van of selfs vóór die Christendom bestaan het. Bronne vir Christelike gnostisisme* is die vroeë antiketterye-polemiek, veral deur Irenaeus* en Hippolitus*, en die Koptiese* gnostiese ge­skrifte wat in 1946/1947 by Nag Hammadi in Egipte* ontdek is. ’n Christelike gnostiek ontstaan tydens die tweede eeu en word vir ons die eerste keer in die vorm van die Va­len­tiniaanse gnostiek in volle omvang sigbaar (Irenaeus, Adv Haer 1,23,4-24,2). Die Nag Hammadi-tekste reflekteer ’n gnostiese sisteem, die setiaanse gnostiek, wat miskien ook al in die tweede eeu nC ontstaan het. Sentraal vir alle gnostiese sisteme, is die rol wat geheime kennis* of insig (Grieks*: gnosis) in plaas van geloof* by die verlossing speel. Verlossing word naamlik verkry deur ’n middelaar-verleende kennis oor die mens­like toestand, wat ’n vereniging met God bewerk. Tipies vir gnostiese sisteme is ’n dualistiese* wêreldbeeld, die oorbrugging van die afstand tussen God en mens­heid deur tussen-gode (onder andere ’n skeppergod, die demiurg), ’n neerdalende en wederkerende verlosser, veragting van die wêreld en liggaamlikheid. (Kyk ook by: Gnostisisme.)

Vir verdere lees: C Markschies 2003. Gnosis: An Introduction. Edinburgh: Clark.

 

Sidebar