GOD-IS-DOOD-TEOLOGIE

GOD-IS-DOOD-TEOLOGIE. Omdat die God-is-dood-teologie nie ’n teologiese sisteem ontwikkel het nie, is talle van hulle standpunte fragmentaries, onduidelik, pa­ra­dok­saal en spekulatief van aard.

Die belangrikste verteenwoordigers van hierdie beweging, wat veral in die VSA in die 1960’s opgang gemaak het, was William Hamilton en Thomas JJ Altizer*, hoewel na­me soos Gabriel Vahanian, Paul van Buren*, Dorothee Sölle* en Herbert Braun soms ook hiermee verbind word. By sommige is die invloed van Hegel* en Nietzsche* aantoonbaar.

Talle motiewe het hier ’n rol gespeel: daar is (en was) nooit ’n God nie; daar was wel ’n God wat aanbid en gedien kon word, maar Hy bestaan nie meer nie; die hele godsidee en die woord “God” moet radi­kaal nuut geformuleer word; die Christe­like boodskap kan nie langer red en genees nie; die klassieke (metafisiese) voorstellings van God is dood en moet verdwyn; mense ervaar God vandag nie meer nie, behalwe as afwesige; mensgemaakte gode moet altyd sterf sodat die ware God opnuut ge­bore kan word; ons spreke oor God is altyd onvoldoende en onvolmaak.

Dit is opvallend dat hierdie tipe teologie* kwalik ’n dekade bestaan het – al mag ons nooit die belangrikheid van die kritiese vrae wat hier gestel is, ontken nie.

Vir verdere lees: TJJ Altizer en W Hamilton 1966. Radical Theology and the Death of God. New York: Bobbs-Merrill Co. TW Ogletree 1966. The “Death of God” Controversy. Londen: SCM.

Sidebar