GOD

GOD. Die Bybel* kom uit ’n wêreld waarin die bestaan van God vanselfsprekend was. Trouens, dit was selfs algemeen dat mense aanvaar het daar is baie gode. Die gode waarin hulle geglo het, het direk verband gehou met hulle behoeftes. Vir elke be­hoefte het hulle ’n god gehad – ’n god vir reën, een vir vrugbaarheid, een vir vrede, een vir oorlog, en nog baie ander. In die omgewing van Israel* is daar nie ’n volk bekend wat net een god aanbid het nie. Daarom is daar soveel nadruk in die Bybel op die feit dat Israel net één God aanbid (Deut 6:4). Israel se God was uniek. Hy staan dwarsdeur die Ou Testament* téénoor al die ander gode. Dit loop deur tot in die Nuwe Testament*. Paulus* getuig van die heidene* in Tessalonika: “… hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien” (1 Tess 1:9). Daar is nie sprake van ’n algemene god wat net verskillende name by verskillende volke het nie. Die profete roep die volk voortdurend weg van die ander gode, terug na hulle God toe. Hy het dan ook ’n spesifieke Naam: Jahwe*. (Kyk ook: Naam van God.) En Paulus verkondig “die onbekende God” aan die Grieke wat al klaar vreeslik gods­dienstig was (Hand 17:23 en volgende verse).

Gode het gewoonlik bepaalde plekke gehad waar hulle gewoon en verskyn het. Israel se God het in ’n sekere sin ook so ’n plek gehad: Hy het by/onder sy volk gewoon. Maar dit was eerder ’n verhouding as ’n bepaalde plek. Daarom kon Hy saam met hulle deur die woestyn na die beloofde land trek, en later eers in die tempel* in Silo* woon (1 Sam 1:7, 9), en daarna in die tempel in Jerusalem*.

Daar is eintlik nie in die Bybel sprake van God-op-sigself nie, wel oor en oor van God-in-verhoudings. Daar is bv geen poging om te “bewys” dat daar ’n God is nie. Dit is ’n moderne verskynsel. Die Bybel begin eenvoudig vertel oor God: “In die begin het God …” (Gen 1:1). Die verskil kom daarin dat die mense wat die verhale in die Bybel vertel, geglo het dat hulle God beleef het.

Die verhoudings waarin God leef, kom veral tot uitdrukking in twee begrippe wat oor en oor in die Bybel voorkom: verbond* en koninkryk*.

Verbond dui onder andere op God se verbondenheid, inisiatief en trou, en “ko­ninkryk” op sy mag en gesag. Verbond sê Hy is die verbonde God, Hy leef in verhoudings. Ons ken Hom nie anders as Is­­- r­ael se God, en deur Jesus* as ons Vader* nie. En in hierdie verhoudings neem Hy die inisiatief. Hy kom na Abraham* en kondig eensydig die verbond en die verpligtings in die verbond aan. Al wat Abraham kan doen, is om sinvol op Hom te reageer (Gen 12, 15, 17). Hierdie patroon van inisiatief gaan dwarsdeur sy geskiedenis met Israel voort, en bereik sy hoogtepunt in Jesus, sy unieke inisiatief. Omdat sy verhoudings verbondsverhoudings is, is dit naby-verhoudings. Hy wat hoog en verhewe is, is naby dié wat verdruk en nederig is (Jes 57:15). Verder is verbondsverhoudings vaste verhoudings. ’n Mens kan op Hom reken. Hy staan nie Maandagoggende met die verkeerde voet uit die bed op nie. Hy bly getrou – selfs al is ons ontrou (2 Tim 2:13).

Uit die verbond – dit beteken uit God se verbondenheid – leer ons ook dat God baie probleme het.

Elkeen van ons is een daarvan, veral ons ontrou, ons “dwaalsiek hart”. Daar is in die Ou Testament oorweldigende getuienis dat mense nie aan Hom gehoorsaam is nie. Soms word selfs gesê die sentrale tema van sy hele geskiedenis met Israel, is sy trou en hulle ontrou. En juis omdat Hy sy volk liefhet (Kyk by: Liefde), is dit vir Hom ’n ontsaglike pyn. ’n Profeet* kan dit selfs namens Hom uitskree (Jer 2:10 en volgende verse). “Hemel” is hier ’n eufemisme vir God self. Hoe is dit moontlik dat sy volk wat Hy al eeue lank so getrou versorg, so ontrou is aan Hom?

Dit is vreemd dat mense soms huiwer om so oor God te dink, dat hulle liewer oor Hom dink as algenoegsaam, onbeweeglik, sonder emosie, die ewige syn. Dit sou Hom ’n ysblok maak, terwyl ons juis lees dat Hy omgee, dat Hy dit nie aanvaar as ons ons liefde vir ander gode gee nie (Eks 20:5). Liefde is nie meer liefde as dit nie pyn ly wanneer dit verwerp word nie. En God is liefde (1 Joh 4:8, 16).

Die begrip koninkryk bring sy mag en gesag na vore. Hy is die koning, koning oor Israel, maar in werklikheid koning oor alle volke (1 Sam 8:4 en volgende verse; Ps 2:10-12; 47:1-3; 138:4 en volgende verse). Dit beteken Hy het reg op hulle, en hulle moet aan Hom gehoorsaam wees.

God se mag is ondenkbaar groot. Selfs hordes vyande is soos fyn stof, hulle word soos kaf weggewaai. Die nasies is soos ’n druppel aan ’n emmer, soos ’n stoffie aan ’n weegskaal (Jes 29:5; 40:15). In hierdie tye het die Bybelskrywers in werklikheid nog geen idee gehad van die grootte van die heelal, en die kleinheid en ingewikkelde samestel­ling en funksionering van selle en atome nie. In die lig van ons hedendaagse kennis, is dit nog veel minder moontlik om ’n sinvolle begrip te vorm van die grootheid van God se mag as in Bybeltye.

En by Jesus leer ons Hy gebruik sy mag om Jesus uit die dood op te wek, om die bose magte te vernietig en die aarde nuut te maak. En Hy verenig sy mag met sy liefde om die harte van mense te verander. Maar Hy kan ook sy mag sonder sy liefde gebruik. Die hel* wat brand met vuur en swael is daarvan die vreeslike simbool (Op 20:10). En alhoewel ons meestal van God in manlike terme praat (“Hom”, en “Hy”) – soos die Bybel wat uit ’n heel ander tyd as ons eie kom, dit dikwels doen – moet ons verstaan dat Hy nie geslagtelik-gebind is nie, en daarom gebruik die Bybel ook soms vroulike beelde vir God (bv Jes 49:15; 66:12-13; Hos 11:3). (Kyk ook: Eienskappe van God.)

Sidebar