GODDEFROY, MARIÉ JOSEPH

GODDEFROY, MARIÉ JOSEPH (1848–1920) is van Frans-Belgiese afkoms. Hy be­dien, ná teologiese studie aan die Univer­siteit van Utrecht, vanaf 1877 vir tien jaar drie gemeentes van die Nederlandse Her­vormde Kerk. Daarna aanvaar hy ’n beroep na die kombinasie-standplaas Pretoria-Stan­derton-Middelburg van die Neder­duitsch Hervormde Kerk* in die Zuid-Afri­kaansche Republiek, waar hy op 30 Sep­tember 1887 bevestig word. As enigste predikant* bedien hy aanvanklik al dertien gemeentes* van die kerk, wat in daardie stadium totaal ontwrig en gedisorganiseer was ná die mislukte kerkvereniging van 1885. Tot met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog (1899–1902; Kyk by: Anglo-Boereoorlog) was hy die onbetwiste lei­dinggewende figuur in die kerk. Op be­kwame wyse het hy die taak van heropbou van die kerk verrig en die teologiese koers opnuut aangewys. Met sy kerklik-teologiese standpunt om hom na twee kante af te grens, enersyds teen die modernisme* en andersyds teen die onreformatoriese gelykstelling van die kerklike belydenisskrifte* en formuliere met die Woord*, het hy hom aangesluit by die standpunt van die Neder­duitsch Hervormde Kerk wat belydende kerk en nie belydeniskerk nie, wou wees. Ook met die kultureel-staatkundige Voor­trek­ker*ideaal, soos hy dit in die kerk aangetref het, het hy hom volledig vereenselwig.

Vir verdere lees: SJ Botha 1981. Ds Marié Joseph Goddefroy 1848–1920. Sy lewe en betekenis. Pretoria: Kital.

 

Sidebar