GODDELIKE GEBODSETIEK

GODDELIKE GEBODSETIEK (Engels: “God command theory”) is die etiese benadering wat leer dat die wil of wet van God (Kyk by: Wet van God en Wil van God) die maatstaf van reg en verkeerd is. Dit is ’n uitvloeisel van die meer omvattende benadering in die teologie* wat bekend staan as “teologiese voluntarisme” (Latyn: voluntas = wil) waarin nie die wese van God nie, maar sy wil as grondslag van die teologie beskou word. (Kyk by: Voluntarisme). Voorstanders van die goddelike gebodsetiek leer soms dat “reg” en “verkeerd” niks anders beteken nie as “deur God beveel” en “deur God verbied”. Alle voorstanders oordeel egter dat ’n optrede alleen reg is omdat dit deur God beveel word, en alleen verkeerd omdat God dit verbied. Met ander woorde, wat uiteindelik ’n optrede reg of verkeerd maak is die feit dat God dit beveel of verbied. Waaroor voorstanders verskil, is oor hoe ons kan weet wat God beveel en wat Hy verbied. In Protestantse* kringe is daar diegene wat glo dat die wil van God alleen in die Skrif* aan ons geopenbaar word, en diegene wat glo dat God ook op ’n direkte en onbemiddelde wyse aan die gelowige deur die Heilige Gees* sy wil bekend maak.

Deur teenstanders van die goddelike gebodsetiek word veral twee punte van kritiek geopper. Die eerste is dat die goddelike gobodsetiek geen bevredigende antwoord op die sogenaamde Eutofroon-dilemma bied nie. In een van Plato se dialoë met die titel Eutufroon opper die hooffiguur met dieselfde naam die mening dat wat iets reg maak, die feit is dat dit deur God beveel word. Sokrates stel dan aan hom die vraag: “Is iets reg omdat God dit beveel, of beveel God dit omdat dit reg is?” As Eutufroon antwoord dat God natuurlik iets beveel omdat dit reg is, wys Sokrates hom daarop dat hy met dié antwoord ’n streep trek deur die mening wat hy aanvanklik geopper het, omdat hy daarmee by implikasie sê dat die maatstaf van wat reg is, buite God lê en ook deur God eerbiedig moet word. Kritici oordeel dat hierdie dilemma ook vir voorstanders van die goddelike gebodsetiek geld. Deur te aanvaar dat ’n optrede reg is omdat God dit beveel, wys hulle die moontlikheid af om te sê dat God iets beveel omdat dit reg is. Sommige voorstanders van die goddelike gebodsetiek aanvaar hierdie gevolgtrekking, maar argumenteer dan dat dit nie problematies is nie, terwyl ander ontken dat hier sprake is van ’n werklike dilemma.

’n Tweede punt van kritiek wat nou met die eerste saamhang, is dat, as die goddelike gebodsetiek waar is, en God wrede, oneerlike of onregverdige optrede sou beveel, ons sulke optrede “reg” en “verpligtend” sou moes noem. Die gebruiklike verweer dat God nie sulke optrede sou beveel nie, omdat Hy goed is, kan weer eens impliseer dat God aan morele kriteria voldoen wat onafhanklik van Hom gegee is. Die verweer behels dan ’n sirkelredenasie. As met die uitspraak dat God goed is, alleen bedoel word dat God welwillend en liefdevol is en dit daarom teen sy wese sou wees om wreed, oneerlik en onregverdig op te tree, is daar egter nie sprake van ’n sirkelredenasie nie.

Vir verdere lees: DE de Villiers 1978. Die eiesoortigheid van die Christelike moraal. Amsterdam: Rodopi (hoofstuk 5, bl 121-150; W Frankena 1973. Ethics. Englewood, NJ: Prentice Hall (bl 28-30).

 

Sidebar