GODSBEWYSE

GODSBEWYSE. Daar was dikwels in die teologie* pogings om uit die algemene open­baring* bewyse vir die bestaan van God aan te dui. In die gereformeerde* teo­lo­gie is daar soms na die volgende sg Godsbewyse verwys: 1. die kosmologiese bewys: vir alles moet daar ’n laaste oorsaak wees, en dit is God; 2. die teleologiese bewys: iemand het klaarblyklik vir alles ’n bepaalde doel daargestel, en dit is God: 3. die ontologiese bewys: daar moet ’n hoogste wese bestaan, bo wie niemand is nie, en dit is God; 4. die morele bewys: omdat die mens ’n sedelike wese is, moet daar ’n hoogste wetgewer wees, en dit is God; 5. die etnologiese bewys: alle volke het die een of ander vorm van godsdiens*, daarom moet daar ’n God wees; 6. die geskiedkundige bewys: die voortgang van die geskiedenis dui op regering deur ’n hoogste wese, en dit is God.

Sulke Godsbewyse kan egter hoogstens bevestigende waarde hê vir dié wat reeds deur geloof* tot kennis van God gekom het, en nie om iemand tot geloof in God te bring nie.

In die Katolieke Kerk* se teologie word wel volledig ruimte gelaat vir ’n theologia naturalis of natuurlike teologie. Dit kom daarop neer dat ’n mens uit die bestaan van die werklikheid (die natuur) kan aflei dat daar ’n eerste oorsaak is, en dit is God.

 

Sidebar