BARMHARTIGHEID

BARMHARTIGHEID is ’n intense ge­voel van ontferming of meegevoel wat sigbaar word in die manier waarop teenoor iemand anders opgetree word. In die Ou Testament* is die woord “barmhartigheid” deel van ’n groep woorde wat gebruik word om mense se houding en optrede teenoor mekaar te beskryf. Dit word byvoorbeeld gebruik om ’n ma of ’n pa se gevoel vir hulle kinders (Jes 49:15; Ps 103:13) te beskryf, terwyl Israel* se vyande verwyt word dat hulle wreed is en geen barmhartigheid teenoor ander openbaar nie (Jes 13:18; Jer 6:23). In die Ou Testament word die woord meestal gebruik om God se besondere ontferming en meegevoel teenoor Israel te beskryf, net soos van ’n aardse pa teenoor sy kinders (Ps 103:13). Die Ou Testament beklemtoon dat geen mens God se barm­hartigheid verdien nie; Hy gee dit onver­diend aan wie Hy wil (Eks 33:19). Omdat God barmhartig is, vergewe Hy Israel al behoort Hy hulle eintlik te straf vir hulle sonde* en ongehoorsaamheid (2 Kon 13:23). Tydens die ballingskap* het die profete* die volk aangemoedig op grond van God se barmhartigheid (Klaagl 3:32); hulle moes bly hoop* dat God hulle ook in die toe­koms* sou red (Jes 14:1; Sag 1:16) en hulle kon seker wees dat hulle sy barmhartigheid vir altyd sou ervaar (Jes 54:8, 10).

In die Nuwe Testament* wys God sy barm­hartigheid en ontferming vir mense deur die feit dat Hy Christus* gestuur het om hulle te verlos (Tit 3:5; Ef 2:4). Dit word bv aangrypend uitgedruk in die verhaal van die blinde Bartimeus wat na Jesus* roep om ontferming (Mark 10:47, 48). In die Nuwe Testament word verder be­klemtoon dat ook nie-Jode God se barm­har­tigheid ervaar en deel mag word van die kerk* (1 Pet 2:10). Die teenoorgestelde van God se barmhartigheid is sy toorn* (Rom 1:18). Gelowiges kan egter by die eindoor­deel (Kyk by: Oordeel) op God en Christus* se barmhartigheid vertrou (2 Tim 1:18; Judas vers 21). Omdat God barmhartig is, verwag Hy dat gelowiges ook barmhartig sal wees (Luk 6:36); sulke mense is geseënd (Matt 5:7). Die Ou-Testamentiese oproep dat God meer in barmhartigheid as in offers* belangstel (Hos 6:6), word in die Nuwe Testament herhaal (Matt 9:13). In die gelykenis* oor die barmhartige Samaritaan verduidelik Jesus dat ’n mens iemand anders se naaste* word deur barmhartigheid teenoor hom/haar te bewys (Luk 10:25-37). In die Nuwe-Testamentiese briewe* word “barmhartigheid” soms saam met “genade*” en “vrede*” in die seën­groet* gebruik, bv 1 Tim 1:2.

DF Tolmie

Sidebar