GODSDIENSTIGE ONVERDRAAG­SAAM­HEID

GODSDIENSTIGE ONVERDRAAG­SAAM­HEID vind plaas wanneer groepe afgemaak, gestereotipeer of aktief vervolg word vanweë hulle godsdienstige oortui­gings en gebruike. Andersheid word nie ver­dra nie.

Intoleransie na buite en na binne kom voor. Intoleransie na buite is wanneer ’n groep hulle godsdiens beskou as die enigste ware een. Ander godsdienste moet dan beveg of uitgeroei word. Intoleransie na binne is wanneer mense nie verskille binne hulle eie godsdienstige groep kan verdra nie. Veral leerstellings of dogma* is die fokuspunt van interne onverdraag­saam­heid.

Die vroeë Christene* is wreed vervolg van­weë hulle geloofsoortuigings en ge­bruike soos die nagmaal*. Met die Edik van Milaan* (313 nC) word godsdiensvryheid uit­ge­roep en die Christelike godsdiens* word die staatsgodsdiens. Kort daarna be­gin Christene om ander te vervolg. Mede-Christene (na binne) word beskuldig van kettery* en skeurmakery. Na buite is Chris­tene onverdraagsaam teenoor Moesliems* en Jode*.

Anti-Semitisme*, intoleransie ten opsigte van Jode, kom wyd in die geskiedenis voor en het grusaam tot uitdrukking gekom in Europa tydens die Tweede Wêreldoorlog*. Konflik tussen Christene en Moesliems in verskeie dele van die wêreld vandag (bv in dele van Afrika*), is ’n hedendaagse voorbeeld van intoleransie na buite. Kerkskeuring en die afsplintering van groepe is eietydse voorbeelde van intole­ransie na binne.

Sidebar