GODSDIENSVRYHEID

GODSDIENSVRYHEID. In baie lande van die wêreld word die indiwidu se reg om ’n godsdiens* van sy keuse aan te hang en te beoefen, in die grondwet erken. Daarmee saam gaan ook die reg op gesamentlike beoefening van godsdiens. Beide regte word egter beperk deur sekere voorwaardes, soos dat die beoefening daarvan nie die goeie orde van die samelewing in gedrang bring, ’n oortreding van lands­wette behels of inbreuk maak op ander persone se vryhede en regte nie. In Hoofstuk 2 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika word dit pertinent gestel dat elkeen die reg op vryheid van gewete*, godsdiens, denke, geloof* en mening het. Godsdienstige handelinge mag ook in staats*- of staatsgesteunde instellings beoefen word, mits die reëls gevolg word wat deur die toepaslike openbare gesagslig­game neergelê is, billikheid in ag geneem word en die bywoning vrywillig is. In die Protestantse* geloofstradisie word godsdiensvryheid wyd erken: niemand mag gedwing word tot aanvaarding van ’n bepaalde godsdiens nie.

Die beginsel van godsdiensvryheid word ook gestel in Artikel 18 van die Universele Verklaring van Menseregte*, waarin die reg om van godsdienstige oortuiging te verander en om persoonlik en in die openbaar jou oortuigings te bely en te leer, erken word. Daar is egter nog talle lande in die wêreld waar godsdiensvryheid ernstig ge­skend word. Die State Department van die Verenigde State van Amerika sonder byvoorbeeld sekere state in dié verband uit: Birma, China, Noord-Korea, Eritrea, Iran, Saoedi-Arabië, Soedan en Viëtnam. Ander lande waar daar ook vergrype in hierdie verband voorkom, is Afganistan, Egipte, Maleisië en Libië.

 

Sidebar