GODSDIENSWETENSKAP

GODSDIENSWETENSKAP. Die wetenskaplike bestudering van godsdiens* (of religie*) as menslike verskyningsvorm dateer terug na die 18de eeu (ook die tydperk van die Verligting* genoem). Dit verskil daarin van teologie* dat godsdiens “van buite die kring” bestudeer word, terwyl teologie in wese “van binne die kring” en in solidariteit met die gemeenskap van gelowiges* beoefen word. Origens kom baie van die metodes en benaderings wat in teologie toe­passing vind, ook in godsdienswetenskap voor (of omgekeerd).

Godsdienswetenskap bestaan tradisio­neel uit die volgende:

Godsdiensgeskiedenis: die historiese, interpreterende en sistematiese bestude­ring en beskrywing van godsdienste, aspekte van godsdienste, godsdiensgroeperings en dies meer.

Godsdiensfenomenologie: bestudering van godsdiens as verskynsel. Uitgaande van ’n teorie van godsdiens, word die verskillende struktuurelemente en verskynsel­aspekte van godsdiens as sodanig bestudeer en beskryf. Die metode is histories, fenomenologies en sistematies.

Godsdienspsigologie: godsdiens uit ’n psigologiese hoek benader. Teorieë bestaan oor die rol van die onderbewussyn, projeksie en dergelike in die ontstaan en ontwikkeling van godsdiens.

Godsdienssosiologie: bestudering van godsdiens in sy sosiale verband.

Godsdiensfilosofie maak die hoogtepunt van godsdienswetenskap uit. Dit is die mees abstrakte bestudering van en nadenke oor die verskynsel godsdiens.

Godsdienswetenskap staan in Engels bekend as “Religious Studies” of “Science of Religion”.

Sidebar