GODSLASTER

GODSLASTER is die ontering van God deur op ’n oneervolle of aanstootlike ma­nier na God te verwys. Daar kan onderskei word tussen direkte godslaster waar daar spesifiek na God self verwys word, en indirekte godslaster waar daar deur verwysing na sake of persone wat ten nouste met God in verband staan, by implikasie oneervol of aanstootlik teenoor God opgetree word. In die Joodse* tradisie is godslaster op ’n relatief minimalistiese manier beperk tot direkte misbruik van God se Naam (Kyk by: Naam van God) of aan­stootlike taal wat spesifiek met betrekking tot God self gebruik is – ’n oortreding wat volgens die Ou Testament* met die dood* strafbaar was. In die Christelike tradisie* is daar ’n neiging om ’n wyer interpretasie aan godslaster toe te ken en word daar soms so ver gegaan as om die afwyking van ortodokse* godsdienstige idees as godslaster te beskou. In meeste Westerse lande is gods­laster vir baie lank as ’n misdaad beskou wat deur wetgewing omskryf en deur maat­reëls van die staatsowerheid bekamp is. Met die toenemende sekularisasie* van die gemeenskap en die ontwikkeling van ’n plurale samelewing, het die klem al meer verskuif na die beskerming van godsdiens­tige groepe se oortuigings teen die ergerlike en aanstootlike bespotting daarvan deur persone wat daarvan verskil.

Sidebar