GOEDERTIERENHEID

GOEDERTIERENHEID is een van die woorde waarmee die Hebreeuse* chéséd vertaal kan word, en is sinoniem met be­grippe soos goedheid, trou, lojaliteit, barm­hartigheid*, en verwys veral na ’n positiewe ingesteldheid. Dit kom veelvuldig in meer liturgiese* kontekste voor, soos in die Psalms* waar dit veral God se goedheid be­sing. Dit funksioneer ook binne die raam­werk van die Ou-Testamentiese* ver­bond*. Die vennote binne die verbond tree in lojaliteit en solidariteit teenoor mekaar op soos in die verhouding tussen Dawid* en Jonatan*. Goedhartigheid is veral God se positiewe ingesteldheid teenoor sy volk. Wanneer hierdie goeie geneentheid teen­oor sy volk ophou, tree sy oordeel* in. By Israel* het dit ontwikkel tot ’n soort vroom­heid* of spiritualiteit*. Dit is die regverdiges, die godvresendes, die gunsgenote van God, diegene wat getrou gebly het aan die wet* en die regte instelling daarteenoor openbaar, wat met chéséd handel. In die Nuwe Testament* staan hierdie begrip meestal in verband met God se genade*. Die koms van Christus* word gesien as die verskyning van God se goedertierenheid. Die oproep aan gelowiges* is om in Christus die gunsbewyse van God raak te sien en tot beke­ring* te kom. Maar dit is ook ’n deug waar­mee die gelowige hom/haar moet beklee.

 

Sidebar