GOEIE WERKE

GOEIE WERKE. Die teologie* van goeie werke het eers in die polemiek tussen Augustinus* en Pelagius* na vore gekom. Augustinus het geleer dat, as gevolg van die erfsonde*, die mens heeltemal boos is en alleen sleg kan doen. Net deur die genade* van God, wat met geloof* aanvaar word, kan die mens goed doen. Pelagius, aan die ander kant, het geleer dat die mens vry is en dat hy/sy deur sy/haar eie pogings die goeie kan kies en die verkiesing (Kyk by: Uitverkiesing) in Chris­tus* deelagtig kan word. By die Tweede Konsilie van Orange (529 nC) is soos volg deur die biskoppe* besluit: Die voor­afgaande genade van God is noodsaaklik om tot geloof* en verlossing te kom; ná be­ke­ring* is die genade van God (daaropvolgende genade) ook noodsaaklik om met goeie werke tot die volheid van heiligheid* te kom; en die leer dat God sommige mense vooraf tot veroordeling voorbeskik het, word afgewys (vgl 1 Tess 5:9; 1 Pet 1:17; 2 Pet 3:9). Goeie werke is die vrug van bekering en is net deur God se genade moontlik. Met die daaropvolgende genade van God is die gawe van die Heilige Gees* uitgedeel sodat ons in die werk van Chris­tus op aarde ingesluit kan word. Goeie werke is die werke waar ons tot die redding van ander mense meewerk en die groei van die liggaam van Christus op aarde voortsit. Terselfdertyd, waar ons deur goeie werke met ons vrye wil met die Heilige Gees saamwerk en ons eie kruis opneem, word ons tot die volheid van heiligheid gebring (vgl 2 Kor 3:18; Gal 5:6; Jak 2:17).

Bostaande is steeds die siening van die Katolieke Kerk*. Gereformeerdes* stem saam oor die belangrikheid van goeie werke en ook dat dit net die genade van God is, soos in Christus geopenbaar, wat tot die redding van sondaars* lei, en beklemtoon dat goeie werke as sodanig niemand kan red nie.

 

Sidebar