GONIN, HENRI LOUIS

GONIN, HENRI LOUIS (1837–1910) is in Sainte Croix, Switserland, gebore. Hy studeer in Basel, Lausanne, en aan die teologiese skool in Genève. In 1861 gaan hy na Edinburgh waar hy vir William Robert­son* ontmoet wat uit Suid-Afrika gestuur is om predikante, sendelinge en onderwysers vir die NG Kerk* te werf. Saam met ds A MacKidd* bied hy sy dienste aan vir sen­ding*werk in die Transvaal. Hy keer eers terug na Genève waar hy op 16 Junie 1861 as pre­di­kant* georden word. Op 16 De­sem­ber 1861 kom hy en sy vrou in Kaapstad aan, en op 9 Januarie 1862 is hy deur die buitelandse sendingkommissie van die NG Kerk vir sy nuwe werkkring afgesonder. Met die hulp van kommandant Paul Kruger* – die latere president van die Zuid-Afri­kaansche Repu­bliek – en onder geleide van Andrew Mur­ray*2 soek hy en MacKidd na ’n staanplek in die omgewing van Rus­tenburg. In 1864 koop hy die plaas Welgeval waar hy ’n sen­ding­stasie aanlê, en in 1868 koop hy Saulspoort van Paul Kruger aan waar hy met groot vrug gearbei het. Hy verteenwoordig die NG Kerk by die Wêreld­sending­konferensie van 1910. Met sy terugkeer sterf hy te Stellenbosch. Sy tweede huwelik was met Susanna (Mimmie), oudste dogter van ds JH Neethling*.

Vir verdere lees: DW Krüger (hoofred) 19862. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, deel 1. Pretoria: RGN.

Sidebar