GORBATSJOF, MIKHAIL SERGEEVICH

GORBATSJOF, MIKHAIL SERGEEVICH (1931–) was as jongman drywer op ’n masjien-trekkerstasie waar hy die kommunistiese (Kyk by: Kommunisme) landboustelsels se gebrek aan produktiwiteit eerste­hands ervaar het. Hy het in 1952 by die Kommunistiese Party aangesluit en is toe­gelaat om regsstudies aan die Universi­teit van St Petersburg te volg. Hy is met ’n medestudent, Raisa Titirenko, getroud (1953) wat later as ’n sjarmante vrou ’n belangrike rol in haar man se internasio­nale diplomasie sou speel.

Die de-stalinisering van die Unie van Sowjet-republieke (USSR) wat in 1956 deur Nikita Chroesjtsjof begin is, is deur Gor­batsjof en sy medelede van die Kommunis­tiese Jeugliga, Komsomol, ondersteun. (Kyk by: Stalin.) Sy vinnige opgang in die party lei in 1985 tot sy aanstelling as hoofsekretaris van die Kommunistiese Party van die USSR, en as premier. Hy het hierna met ingrypende her­vormings, glasnost en perestroika ge­noem, begin ten einde die kommunistiese stelsel doeltreffender te maak, maar wat uiteindelik die ineenstorting daarvan in die Sowjet-unie en Oos-Europa meegebring het. Dit het alles noodwendig geweldige gods­dienstige implikasies gehad vanweë die kommunisme se tradisionele anti-Chris­telike houding. Christelike sendelinge* het die ou kommunistiese state binnegestroom en minder of meer sukses behaal in hulle pogings om mense tot die Christelike geloof* te bekeer.

Gorbatsjof, Nobel-pryswenner vir Vrede, het ’n deurslaggewende rol in die 20ste eeuse wêreldgeskiedenis gespeel, maar self die slagoffer van sy hervormings geword omdat hy dit nie enduit kon be­stuur nie. Sterk opposisie onder leiding van Boris Jeltsin het in 1991 die bedanking van Gorbatsjof meegebring. Mikhail Gorbatsjof se hervormings het uiteindelik die Sowjet-unie in ’n aantal state laat verbrokkel waarvan die meeste in ’n groot mate in die Westerse dampkring beland het. Van Russiese kant duur die stryd egter voort om van hierdie state weer in sy invloedsfeer te kry, soos blyk uit die anneksasie in 2014 deur Rusland van die Krim-skiereiland, wat deel was van die Oekraïene. Gor­batsjof se optrede het in elk geval nie die einde van kommunisme wêreldwyd beteken nie. In baie lande is daar nog variasies daarvan, soos in die land met die grootste bevolking ter wêreld, China*. In Suid-Afrika, waar kommunisme in die vorige era verbied was, dien etlike geswore kommuniste in die Kabinet (2015).

Sidebar