GOSPEL-MUSIEK

GOSPEL-MUSIEK het sy naam waar­skynlik te danke aan die musiek wat jare gelede deur swart slawe* wat uit Afrika* na Amerika gebring is (1600–1800) in plantasies, op plase en in hulle huise gemaak is. Die swart Amerikaner Thomas A Dorsey word as een van die vaders van dié gospel-musiek beskou. Gospel-musiek het deur die jare oor die wêreld versprei en het in verskillende kultuur*groepe, tale en musiekstyle – in die Engelse wêreld, in Afrika en ook in Suid-Afrika (óók in Afrikaans) – nuwe gestaltes gevind. Larry Norman staan bekend as een van die eerste bekende musikante wat Christelike*/geestelike woor­de by kontemporêre musiek gevoeg het, wat aan hom die titel “Vader van Chris­telike rock” besorg het. In die hedendaagse musiekmark staan die Christelike gospel-musiek op twee bene: kerkgospel (musiek wat in kerke gemaak en gespeel word) en sekulêre gospel (musiek met ’n Christelike tema, wat op die sekulêre mark gemik is). Saam met die term gospel-musiek word vandag ook ander musiekgenres onderskei: worship, pop, kontemporêr, rock, reggae, R and B, country. Miskien is dit beter om die term “Christelike populêre musiek” of “Chris­telike popmusiek” eerder as gospel-musiek as versamelterm te gebruik vir al dié soorte musiek wat oor Jesus* Christus* en ons geloof* in Hom handel. Luidens bevindings van die Alle-Media-en-Produktestudie (AMPS) van die Suid-Afri­kaanse Reklamenavorsingstigting (Saarf) is (ongekwalifiseerde) gospel-musiek van alle musieksoorte in Suid-Afrika die gewildste.

 

Sidebar