GOUE KALF

GOUE KALF dui op die gegote goue afbeelding van ’n jong bul. Hoewel daar slegs enkele kere in die Bybel* na ’n goue kalf verwys word, kenmerk dit wel die mees afkeurenswaardige vorm van afgod*e­ry in die Ou Testament*. Hoewel daar steeds verskil van mening oor die identiteit van die bulkalf bestaan, is daar veral twee moontlikhede: die aanbidding van Baäl* of die sinkretistiese (Kyk by: Sinkretisme) aanbidding van die Here*. (Kyk ook: Kalwerdiens.)

  1. ‑Volgens Eks 32 skep Aäron* ’n kalf met die goue juwele wat die Israeliete* as geskenke van die Egiptenaars* gekry het met die begin van die uittog. Die skepping van die goue kalf word gemotiveer na aanleiding van die gebeure op Sinai*2 toe Moses* volgens die oordeel van die volk so lank weggebly het dat hulle die behoefte aan ’n sigbare god ervaar het. In Deut 9:13-21 tree Moses vir die volk by God in die bresse nadat Israel as gevolg van hulle sondige hardkoppigheid die goue kalf gemaak het. Moses se gebede en vas oor veertig dae, sowel as sy vernie­tiging van die goue kalf, lei tot die redding van Aäron en die volk.
  2. ‑Na aanleiding van Salomo* se sondes, laat die Here die land Israel in twee ko­nin­kryke verdeel. Jerobeam* word ko­ning oor die noordelike tien stamme en probeer die suidelike tempel* in Jerusa­lem* as plek van aanbidding vervang deur twee goue kalwers by Bet-El* en Dan* op te rig. Die goue kalwers word aanbid omdat hulle gesien word as die gode wat Israel uit Egipte* laat optrek het (1 Kon 11–12).
  3. ‑Verdere verwysings na die goue kalf word ook by die profeet Hosea* gevind wanneer hy die afgodediens van Israel kritiseer (Hos 8:5; 10:5-6).

In die Nuwe Testament* verwys Stefa­nus* in sy preek na die volk se ongehoorsaamheid toe hulle offers aan die kalfbeeld gebring het (Hand 7: 39-42).

Sidebar