GRAHAM, WILLIAM FRANKLIN (BILLY)

GRAHAM, WILLIAM FRANKLIN (BILLY) (1918–2018) is as die oudste van vier kinders naby Charlotte in Noord-Carolina, VSA, gebore. In 1934 wy hy homself aan die Here* tydens ’n reeks dienste deur Mordegai Ham. Hy woon verskeie teologiese skole by en sy teologie* sou sy lewe lank behoudend-evangelies bly. (Kyk by: Spirtualiteitsmodelle: Evangeliese spiritualiteit.) In Wheaton ontmoet hy sy lewensmaat Ruth Bell, wie se ouers sedert 1916 sending*werk in China* gedoen het. Hulle eerste bediening is in ’n Baptiste-gemeente in Chicago. (Kyk by: Baptisme.) Graham word in dié tyd die visepresident van Youth for Christ*. Sedert 1945 is hy betrokke by evangelisasie*-saamtrekke regoor die VSA, Kanada en Europa. Van die bekendste byeenkomste was die Groter Londen-byeenkoms in 1954 en die New York-byeenkoms in 1957. Der­duisende mense het hierdie byeenkomste bygewoon en Graham het wyd bekend ge­word as prediker. In dié tyd kom die Billy Graham Evangelistic Association (BGEA) tot stand. Hy begin ook sy weeklikse radioprogram Hour of Decision. Die BGEA begin ook World Wide Pictures wat films soos The Hiding Place en Joni vervaardig. Die tydskrif Decision word in ses tale en Braille gepubliseer. “Navigators” (begeleiers) behartig die geestelike opvolgwerk van nuwe bekeerlinge. (Kyk by: Bekering.) Sedert 1957 was die beleid van die BGEA om slegs drie tot vyf evangelisasie-byeen­komste per jaar te hou. Van 1962 af word seminare, bekend as School of Evangelism, saam met massabyeenkomste aangebied.

’n Aantal publikasies verskyn uit Graham se pen soos Peace with God (1953), The Secret of Happiness (1955) en How to be Born Again (1977). Die BGEA was verant­woordelik vir die volgende belangrike sake: Die totstandkoming van die tydskrif Christianity Today in 1955, die World Congress of Evangelism in Berlyn 1966, die International Congress on World Evangeli­zation in Lausanne 1974, 1983 en 1986, en die International Conferences of Itenerant Evangelists in Amsterdam in 2000.

Gedurende die laaste twee dekades van die 20ste eeu is die televisie gebruik om steeds groter skares mense te bereik. In April 1996 word ’n geraamde 2,5 miljard mense bereik deur die Global World Mis­­sion-uitsending van Graham. Billy Graham, wat op goeie voet was met veral Republi­keinse presidente van die VSA en ander wêreldleiers, was een van die heel grootste evangelisasiepredikers van die 20ste eeu. In sy later jare het Graham lank aan Parkinson se siekte gely.

 

Sidebar