GRAY, GEORGE ROBERT (ROBERT)

GRAY, GEORGE ROBERT (ROBERT) (1809–1872) was die eerste Anglikaanse* biskop* van Kaapstad. Hy is in Bishops­wear­mouth, Engeland, gebore as die se­wende seun van die rektor van Monkswear­mouth wat later biskop van Bristol geword het. Hy het Eton College bygewoon, maar sy gesondheid was swak. Sy opleiding is by University College, Oxford, voortgesit waar hy as ’n “High Churchman” geken is. Hy is in 1833 as diaken*2 georden en die volgen­de jaar as priester in Wells Cathedral. Daar­na het hy as priester*2 by Wentworth gedien waar hy in 1836 met Sophy Myddleton (Kyk by: Gray, Sophia) getroud is. Sy sou hom later baie help as rekenmeester van die Anglikaanse Kerk* in die Kaap, en sy was ook die argitek van Gotiese-styl-kerkgeboue.

In 1847 is Gray as die eerste biskop van Kaapstad in die Westminster Abdy gewy. Gray en sy familie het in Februarie die volgende jaar in die Kaap aangekom. Met die hulp van ’n skenker, mej Burdett-Coutts, het hy die Protea-landgoed gekoop wat vandag Bishopscourt is.

Gray het talle skole en opvoedkundige inrigtings in die Kaap gestig – Diocesan Col­lege (ook bekend as Bishops) en St Georges Grammar School vir seuns, St Cyprians vir meisies en Zonnebloem-kolle­ge vir swart studente.

Gray wou die Anglikaanse Kerk aan die Kaap onafhanklik van die Privy Council in Engeland maak. Al is hy deur talle priesters teengestaan, is die eerste sinode van die Church of the Province of South Africa* in 1870 gehou.

 

Sidebar