GRAY, SOPHIA WHARTON (SOPHY) (MYDDELTON)

GRAY, SOPHIA WHARTON (SOPHY) (MYDDELTON) (1814–1871) kom uit ’n aristokratiese familie in die Durham-county en was getroud met Robert Gray* van die Church of England (Anglikaanse Kerk*). Robert het as die eerste Anglikaanse biskop* van Kaapstad die Kaap in Februarie 1848 saam met Sophia, hulle vier kinders en ’n klein gevolg bereik. Gedurende die volgende 23 jaar het Sophy haarself as ’n knap ontwerper van kerke gevestig, asook as Anglikaanse sekretaresse, boekhouer en gasvrou by Bishop’s Court in Claremont, Kaapstad.

Sophy het talle kerke ontwerp, hoewel sy geen formele opleiding as argitek gehad het nie. Sy het planne voorsien vir minstens 40 van die meer as 50 kerke wat vanaf 1848 deur die omvangryke gemeente-uitbreidingsprogram van Robert tot stand gekom het. Die oorgrote meerderheid van haar kerkont­werpe was in die Gotiese herlewingstyl, gekopieer van ontwerpe van Engelse kerke, en aangepas by plaaslike omstandighede. Haar kerke, dikwels opgerig met gedres­seer­de klip, het meestal dieselfde kenmerke gehad as dié van kerke van die middel-19de-eeuse Engeland. Sophy en Robert Gray is ná hulle dood in onderskeidelik 1871 en 1872 by die St Saviour’s-kerk in Claremont begrawe.

Sidebar