GREGORIUS I

GREGORIUS I (540–604). Gregorius I is al beskryf as die “vader van die Middeleeuse pousdom” en “vernaamste stigter van Chris­telike Europa”. Afkomstig van ’n ryk, aristo­kra­tiese, kerkvaste familie, was Grego­rius ongeveer dertig toe hy aangestel is as hoofadministrateur van die stad Rome. Ná vyf jaar het hy bedank en die familie-eiendom in Rome in ’n monnike*klooster* om­skep. Ná sewe jaar as pouslike gesant in Konstantinopel, is hy Rome toe terugge­roep en as hoof van die kerklike administrasie aangestel.

In 1590 is hy tot pous* verkies. Omdat die keiserlike administrasie in duie gestort het, het hy prakties regeerder van Sentraal-Italië geword. Hy was terdeë bewus van sy verantwoordelikheid as drie en sestigste pous en hoofherder van die Katolieke Kerk*. Hy het onwaardige, kerklui afge­dank, groot geld uitgegee om krygsgevangenes te red, vervolgde Jode* te ondersteun, en vir die slagoffers van hongersnood te sorg. Hy het sendelinge* onder die Ger­maan­se aanvallers ingestuur, asook veertig monnike om die Engelse te bekeer.

Dit is hy wat die titel “dienaar van die dienaars van God” vir die pous gebruik het. Hy het kommentare oor die Skrif* en ’n hele aantal boeke oor die herderlike bediening en sedeleer geskryf. Sy 854 briewe is mees­terstukke van Christelike wysheid en die praktiese toepassing van die evangelie*.

Vir verdere lees: J Hughes 1994. Pontiffs, Popes who Shaped History. Huntington: Our Sunday Visitor.

Sidebar