GREGORIUS VAN NAZIANZUS

GREGORIUS VAN NAZIANZUS (329/30–390) is in Kappadosië gebore, waar sy pa die biskop* was. Gregorius het in Sesarea studeer en daar vir Basilius* ontmoet. Dié twee het vriende geword en verder aan die Universiteit van Atene studeer. Basilius sou mettertyd biskop van Sesarea word – ná die afsterwe van Eusebius*. Basilius die Grote, Basilius se broer Gregorius* van Nyssa, en Gregorius van Nazianzus sou later as die Kappadosiese Vaders bekend staan.

Gregorius het die grootste deel van sy lewe as ’n monnik* in afsondering deurgebring. Hy is in 362 op aandrang van sy pa as priester*2 georden, en het sy pa as sodanig in Nazianzus bygestaan. In 379 is hy na Konstantinopel ontbied om die Belydenis van Nisea* te ondersteun wat Christus* se twee nature bely het. Uit hierdie tydperk het ons sy vyf “Teologiese Redevoerings” waar­in hy die Arianisme*, wat Christus se mens­heid voorop gestel het, weerlê. Grego­rius het die theosis-konsep aangehang waar­vol­gens die Seun* mens geword het, sodat die mens Goddelik kon word. Hy was ’n befaamde prediker en ’n ywerige skry­wer, vandaar die betiteling “Die Teoloog”. Hy het bekend geword vir sy 44 “Redevoe­rings” (insluitende die vyf “Teologiese Rede­voe­rings”), sy briewe (wat hyself in ’n versa­meling saamgestel het en waarvan die drie teen Apolollinarianisme die bekendste is), die “Philokalia” (wat ’n versameling van Origenes* se werk is), en verskeie gedigte.

 

Sidebar