GREGORIUS VAN NYSSA

GREGORIUS VAN NYSSA (circa 330–395) is een van die sg Kappadosiese Vaders, saam met sy ouer broer, Basilius* die Grote, en Gregorius* van Nazianzus.

Gregorius het eers ’n sekulêre beroep as ’n dosent in retoriek gevolg, en was waar­skynlik getroud. Onder druk van Basilius word hy egter eers ’n monnik* in ’n klooster wat Basilius gestig het, en toe bis­kop van Nyssa.

Gregorius van Nyssa is ’n oorspronklike denker en teoloog*. Hy skryf geweldig baie, as apologeet (Kyk by: Apologetiek), eksegeet (Kyk by: Eksegese) en askeet (Kyk by: Askese), en oortref as denker sy broer Basilius. As apologeet skryf hy onder andere Teen Eunomius en Teen Arius waarin hy Christus* se volle Goddelikheid onderstreep, en Teen die Apollinariste waarin hy Christus se volle menslikheid verdedig.

Gregorius van Nyssa ondersteun en ver­dedig die Belydenis van Nisea*, wat geleer het dat die Heilige Gees* uit sowel die Vader* as die Seun* voortkom. Hy leer verder dat Christus twee nature, ’n Goddelike en ’n menslike, gehad het, en dat Maria dus Theotokos was, die een wat aan God geboorte gegee het. Gregorius van Nyssa was so gewild en bekend dat hy by die Sewende Ekumeniese Sinode benoem is tot die “Vader van die Vaders”.

Sidebar