GREGORIUS VII (HILDEBRAND)

GREGORIUS VII (HILDEBRAND) (circa 1023–1085) was pous* van die Katolieke Kerk* vanaf 1073. Hy was van mening dat die pous die hoof oor kerklike én sekulêre magte is. In sy tyd was daar dus baie spanning tussen hom en die koning oor die absolute mag van die pous, en die wenslikheid al dan nie van leke-investituur, dit is, die reg van die koning (as ’n leek, oftewel nie-geestelike) om biskoppe* en abte te orden.

Gregorius VII word as Hildebrand gebore, en kry sy opleiding in ’n klooster* in Rome. Gregorius VI, wat toe pous was, kies hom as sy kapelaan. Toe Gregorius VI in ballingskap na Duitsland toe gaan, neem hy Hildebrand saam. Hildebrand doen in die proses baie ervaring van die politiek rondom pous-wees op. Hy keer in 1049 na Rome terug en word die volgende twee pouse, Leo IX* en Nikolas II, se regterhand. In 1059 word hy aartsdiaken van die Katolieke Kerk, en in 1073 word hy tot pous verkies.

Gregorius VII begin dadelik om alle mag in die pous te sentreer. Hy verbied priesters*2 om getroud te wees, en die kinders van priesters om kerklike ampte te beklee. Hy verbied ook konings om kerklikes te orden (die investituurstryd). Dit lei tot spanning binne die kerk, veral in Duitsland en Frankryk, waar die meeste priesters getroud was en die koning die hoogste gesag in die land was. Dit lei ook tot ’n lewenslange stryd tussen Gregorius VII en die Duitse koning Hendrik IV wat mekaar oor en weer afsit en ekskommunikeer (Kyk by: Ekskommunikasie). Uiteindelik moes Gregorius VII vlug en is hy in ballingskap oorlede. Gregorius VII is in 1606 gekano­niseer* (tot heilige verklaar).

Sidebar