GREYLING, CHRISTO

GREYLING, CHRISTO (1964–) het in 1987, as 23-jarige teologie*student aan die Universiteit van Stellenbosch, positief getoets vir die MI-virus. Hy is in 1983 met die virus geïnfekteer toe hy – as lyer aan bloeiersiekte – ’n bloedoortapping tydens ’n oogoperasie ontvang het. Nadat hy sy teologiese opleiding voltooi het, het hy as NG Kerk*-leraar gewerk totdat hy in 1992 sy MIV*-status in die openbaar bekend gemaak het. Hy het ook ’n nagraadse diploma en ’n meestergraad in openbare ge­sond­heid verwerf. Van 1993 tot 2001 het Grey­ling as projekleier en aanbieder van Old Mutual se “Ek het hoop”-vigsprogram gewerk. In dié tyd was hy ook die mede-aanbieder van “Stories van Hoop” op Radiosondergrense (RSG). In 2002 het hy by World Vision aangesluit as die MIV/vigs*-koördineerder vir Suid-Afrika en Lesotho. Sedert 2003 is hy World Vision se Afrika-raadgewer oor MIV/vigs en die kerk*.

Christo en sy vrou, Liesel, met wie hy in 1988 getroud is, het in Mei 2003 en weer in April 2005 geskiedenis gemaak toe hulle – ná normale bevrugting sonder dat Liesel of die babas met die virus besmet is – die ouers van twee gesonde dog­tertjies (Anika en Mia) geword het. Dit het gebeur danksy die gebruik van antiretrovirale middels.

Sidebar