GREYLING, EBENHAEZER (EBEN)

GREYLING, EBENHAEZER (EBEN) (1898–1981) is in Dordrecht se distrik gebore en het sy teologiese studie op Stellenbosch gedoen. Daarna is hy na Princeton waar hy sy doktorsgraad behaal het. In 1927 word hy NG predikant van Velddrif en later in dieselfde jaar van Tulbagh, en in 1934 word hy Sondagskool*sekretaris. Greyling het hom met groot toewyding aan die bevordering van die Sondagskoolwese gewy. Hy implementeer ’n eenvormige stelsel vir die hele NG Kerk* deur middel van Sondagskoolroosters (die sg “teksboekies”), jaarlikse Bybelkenniseksamens, kursusse vir Sondagskoolonderwysers, standaardhandboeke en lesmateriaal in Die Kindervriend, waarvan hy 32 jaar lank redakteur was. Onder sy bestuur is die Sentrale Pers (later bekend as die NG Sendingpers) en die Sondagskool­boekhan­del in Bloemfontein op­ge­rig. Hierdie bedrywig­hede het die grondslag daarvoor gelê dat die NG Kerk in die laaste kwart van die 20ste eeu sy jeugwerk sonder finansiële pro­bleme kon uitvoer.

Greyling was ook verantwoordelik vir die oprigting van die eertydse Sondagskoolgebou en Kindermonument in Bloemfon­tein. Hy is die skrywer van verskeie boeke oor godsdiensonderwys en die Sondag­skool­wese. Onder sy leiding het Die Katki­sasieboek die lig gesien wat vir verskeie dekades in die NG Kerk gebruik is.

 

Sidebar