GRIEKELAND

GRIEKELAND lê aan die eindpunt van Suid-Europa se sentrale bergrug. Dit is ’n gebied van ongeveer 78 000 km2 waarvan goed 70% deur berge beslaan word. Bergrûe en valleie het kommunikasie in antieke tye bemoeilik en onderlinge verdeeldheid bevorder. Aan die uiters gebroke kuslyn is daar talle natuurlike hawens (veral aan die oostekant), wat gelei het tot seevaart en kolonisering van talle eilande in die Egeïese See, Sisilië*, Suid-Italië en Klein-Asië* tussen 750 en 500 vC. Teen 500 vC het Sparta die grootste deel van die Peloponnesos verenig.

Die opkoms van die Persiese* Ryk het die Griekse uitbreiding gestuit en daar was voortdurende oorlog met die Perse. Ten spyte van aanhoudende konflik tussen Ate­ne en Sparta, breek vir Atene die Goue Eeu van demokrasie*, ekonomiese voorspoed en die opbloei van filosofie* en die kunste in die vyfde eeu vC aan. Maar die stryd tussen Sparta en Atene duur voort en Sparta verslaan Atene in 404 vC met Persiese hulp.

Teen die helfte van die vierde eeu vC was die meeste Griekse stadstate in ’n haglike toestand. Filippus II het Masedonië eers ver­enig en Atene en ander Griekse stadstate daar­na oorwin. Hierna het Aleksander* die Grote op die toneel gekom en die stryd teen die Perse voortgesit, waarna die era van die Hellenisme* aangebreek het. In 146 vC verower Rome (Kyk by: Romeinse Ryk) Griekeland.

In Paulus* se tyd was Griekeland in twee verdeel: Masedonië* in die noorde en Agaje* in die suide. Die Nuwe Testament* verwys na heelwat Griekse stede – die belangrikste van hulle is Filippi*, Tessaloni­ka*, Atene* en Korinte*.

Sidebar