GRIEKS-ORTODOKSE TEOLOGIE

GRIEKS-ORTODOKSE TEOLOGIE. Die Grieks-Ortodokse Kerk* (ook bekend as die Oosterse Kerk of die Ortodoks-Katolieke Kerk) is saam met die (Rooms-) Katolieke* (Westerse) Kerk en die Protestantse* kerke, een van die drie hoofvertakkings van die Christelike kerk*, met hulle historiese hoofsetel in Kon­stantinopel* (Istanbul). In die hart van die Grieks-Ortodokse teologie* lê die verbondenheid aan tradisie*, spesifiek die oorspronklike getuienis van die apostels*. Hulle beskou hulleself as die ononderbroke verlenging van hierdie getuienis – sowel die bewakers as die verkondigers daarvan. Ortodoks beteken letterlik “reggelowig”. Vir hulle dien die sewe ekumeniese konsilies waar die Oosterse en Westerse kerke saam verteenwoordig was, naamlik Nisea I (325), Konstantinopel I (381), Efese (431), Chalce­don (451), Konstantinopel II (553), Konstan­tinopel III (680) en Nisea II (787), as die leerstellige grondslag vir hulle teologie.

Ortodokse teologie moet nie in die Westerse sin verstaan word as ’n wetenskaplike of akademiese dissipline nie. Dit kan nie losgemaak word van die beoefening van liturgie* binne die sakramentele ge­meen­skap nie. In die Ortodokse Kerk dra die liturgie die teologie. ’n Teoloog in die Ortodokse sin is by uitnemendheid iemand wat bid. Deur die gemeenskap se deelname aan sakrament* en liturgie word die onafgebroke eenheid met die Vroeë Kerk* en uiteindelik Christus* ervaar en gevier. In dié sin is Ortodokse teologie ten diepste inkarnasieteologie. Die tydlose eenheid met Christus word in sakrament, lied, simbool en ritueel* herroep en herleef.

Christelike kuns en veral ikone* speel ’n belangrike rol omdat dit dié wat daarin uitgebeeld word, direk uit die verlede teen­woordig stel. Die bewondering vir Maria*1, die ma van Jesus*, staan ook sentraal. Sy is die een wat van alle mense die naaste aan Christus was en word so ook die grootste intreder vir die sondige mens voor Christus. Ortodokse teologie word nou gekoppel aan die vroeë monastiese (Kyk by: Monastisisme) tradisies.

Vir verdere lees: N Smyth 2005. The Orthodox Theology of Today. Montana: Kessinger Publishing.

Sidebar