GRIEKS

GRIEKS. In Nuwe-Testamentiese* tye is vier tale in Palestina* gebruik: Grieks (hoër sosio-ekonomiese en meer opgevoede groep se taal, verder algemeen gebruik in die Romeinse Ryk*); Latyn (Romeinse leër se taal); Hebreeus* (taal van die Ou Testament* en voorlesing van die wet*, maar destyds al hoe minder algemeen bekend), en Aramees* (gewone Jode* se om­gangstaal).

Grieks is die tweede oudste verteen­woordiger van die Indo-Europese taalgroep. Die klassieke periode strek vanaf Homerus (8ste eeu vC) tot Aleksander* die Grote met as “goue eeu” die 5de tot 4de eeu vC. Ander dialekte (Eolies, Dories, Ionies) word in hierdie tyd deur Atties (Atene* se dialek) oorskadu. Aleksander die Grote se oorwinnings lei tot die totstandkoming van Koine- (algemene) Grieks wat die lingua franca en wêreldtaal word in die Hellenistiese* tydvak asook daarna in die Romeinse Ryk. Dit is die Septuaginta* en die Nuwe Testament se taal en behels ’n vereenvoudiging van Atties met Ioniese invloede. Dit is beslis nie ’n buitengewone “hemelse” Grieks wat net in die Nuwe Testament voorkom nie (soos soms gemeen is). Hierdie Grieks weerspieël sintakties die spreektaal van gewone mense, hoewel daar in die Nuwe Testament ook meer literêre gedeeltes aanwesig is. Stilisties vertoon dit duidelike Semitiese kenmerke, terwyl die woordeskat talle ooreenkomste vertoon met die alledaagse lewe se taal, hoewel met duidelike beïnvloeding van die Septuaginta en Christelike ervaring.

Sidebar