GRIEKWAS EN DIE CHRISTELIKE GELOOF

GRIEKWAS EN DIE CHRISTELIKE GELOOF. In die 1700’s het Adam, ’n vry­slaaf, sy ambag as van aangeneem – Kok – en in die omgewing van Piketberg volgelinge om hom vergader – die gebied van die ≠Karixurikwa, ’n Khoekhoen*-subgroep. Uiteindelik bevind sy seuns en volgelinge (toe bekend as “Bastaards”) hulle in die Noord-Kaap waar die Londense Sen­dinggenootskap* werksaam was.

Te Klaarwater word ’n voorstel van eerw Campbell aanvaar dat die groep se naam verander word na Griekwas (afgelei van die oorspronklike naam) en die Noord-Kaapse dorp na Griekwastad. Nog twee sen­dingstasies word gestig – Knoffelvallei word Campbell, asook Philippolis ter ere van die sendeling, dr John Philip*.

Ná politieke woelings vertrek Adam Kok III met nagenoeg 2 000 van sy mense in 1861 na Niemandsland in Natal – wat hulle herdoop tot Griekwaland-Oos, met Kokstad as hoofdorp. Die eerste ding wat hulle opgerig het, was ’n kerkgebou, en steeds is ’n ewewig gesoek tussen die Christelike geloof* en die Griekwa-kultuur.

Uiteindelik was dit opperhoof Andrew Abraham Stockenström le Fleur I wat aan die Griekwas nuwe stukrag sou gee. Hy was as rebel tot 14 jaar tronkstraf gevonnis, maar in ’n gesig het die Here* hom van ’n vroeë vrylating verseker. Dis bewaarheid en daarna is hy deur sy mense die “Kneg van God” genoem. In 1919 bring hy die Griekwa-roeperskore op die been, en in April 1920 stig hy te Maitland (Kaapstad) die Griekwa-Independente Kerk. Van Le Fleur se ander voorspellings is ook bewaarheid en dit word deur oorlewering lewend gehou. In die Griekwa-Independente Kerk kom Christelike geloof, Koor, Griekwa-kultuur en die persoonlike pad wat die Here met die Kneg geloop het, byeen. Tot vandag word, naas die Christelike tradisies, Griekwa-tradisies (soos die hokmeisieinisiasie vir dogters) en spesiale feesdae, ge­handhaaf.

Vir verdere lees: A Mountain 2003. The First People of the Cape. Kaapstad: David Philip.

Sidebar