GRIFFITH, PATRICK RAYMOND

GRIFFITH, PATRICK RAYMOND (1798–1862), ’n Ierse Dominikaan*, studeer in Dublin, Lissabon en Rome. Hy trek die aandag met sy goeie preke asook die versorging van sterwendes gedurende ’n cholera-epidemie in Dublin. In 1837 word hy gewy as Katolieke* biskop*, met standplaas Kaapstad, waar hy in 1838 arriveer. Hy stig skole en stel bekwame priesters*2 aan, ook in die Oostelike Provinsie. Een van hulle was dr Aidan Devereux, later eerste biskop van Grahamstad. In 1841 lê Griffith die hoeksteen van die Maria-katedraal in Kaapstad en, ná 10 jaar van groot persoonlike opoffering, kon hy dit inwy. Hy word allerweë beskou as die grondlegger van die Katolieke Kerk* in Suid-Afrika. Met sy aankoms was daar 700 lidmate rondom Kaapstad, en by sy dood was daar 30 000 in alle dele van die land.

Sidebar