GROENEWALD, EVERT PHILIPPUS

GROENEWALD, EVERT PHILIPPUS (1905–2002), plaasseun van George, studeer teologie* en Grieks* (MA 1927) op Stellen­bosch. Aan die Vrije Universiteit* te Amster­dam studeer hy in die Nuwe Testament* onder FW Grosheide*. Hy keer in 1931 terug om die proponentseksamen midde-in die Du Plessis*-stryd af te lê, en promoveer in 1932 in Amsterdam oor “Koinonia (Ge­meen­skap) by Paulus*”.

Hy is predikant in Bethulie (1932–1938), trou in 1937 (Groenewald, Gertruida*), en word in 1938 een van die eerste professore aan die nuwe Fakulteit Teologie (Afdeling B) van die Universiteit van Pretoria. Hy was vir 21 jaar dekaan en het in 1970 afgetree.

Sy groot liefde was eksegese*. Hy het die eerste Afrikaanse wetenskaplike kommentaar op Markus* (1948) gepubliseer. Hy was die vader van die Nuwe-Testamentiese we­ten­skap in Suid-Afrika, stigterslid van die Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika (1964) en later erelid.

Groenewald is alombekend vir sy Nuwe-Testamentiese kommentare in die Skrifver­klaring vir Bybelstudent en gemeente, die Handboek Bybelse Geskiedenis: Nuwe Testament en sy aandeel aan die Afri­kaanse Bybel met Verklarende Aanteke­ninge.

Groenewald het in 1940’s vir die NG Kerk* ’n verslag opgestel waarin vir die eerste keer ’n sistematiese poging aange­wend is om aan te toon dat apartheid* By­bels te regverdig is, onder andere omdat biologiese, sosiale en godsdienstige apart­heid ook reeds in Ou-Israel sou gegeld het. In later jare het hy erken dat hy ’n fout gemaak het om apartheid met behulp van die Bybel te regverdig. By die historiese konvent voor die eerste Algemene Sinode van die NG Kerk (1962) was hy die voorsitter.

Hy was voorsitter van die Hersienings­kommisie van die Bybelvertaling (1953) en een van die hoofvertalers en voorsitter van die eindredaksie van die 1983-Afrikaanse Vertaling, en die ontvanger van etlike eredoktorsgrade.

Vir verdere lees: SS Terblanche 2004. “Prof E P Groenewald se bydrae as Bybel­vertaler: ’n Historiese oorsig” NGTT 45 (3 en 4).

 

Sidebar