GROENEWALD, GERTRUIDA FRAN­CINA (GEBORE: VAN DEN HEEVER)

GROENEWALD, GERTRUIDA FRAN­CINA (GEBORE: VAN DEN HEEVER) (1908–1988) was ná haar universiteitsoplei­ding in Bloemfontein verbonde aan die redaksies van Landbouweekblad en Die Volksblad – in beide gevalle as redaktrise van die vroue- en kinderbylae. Sy was vroeg reeds betrokke by kulturele bedrywighede – onder meer met voorbereidings vir die totstandkoming van die Voortrekkerbewe­ging in 1931. Met die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument in 1938, was sy aan die hoof van die Voortrekkerbeweging se kamp van 6 000 dogters. Sy het later die eretoekenning van die Voortrekkers, die Orde van die Fakkel, ontvang. Sy is in 1935 getroud met dr EP Groenewald* – destyds predikant van die gemeente Bethulie. In 1938 het die Groenewalds na Pretoria verhuis met sy aanstelling as professor in Nuwe Testament*. Daar was sy medestigter en eerste voorsitter van die Bond van Dienaresse (later die Vrouediens van die NG Kerk*). Sy is in 1959 deur die Bond van Dienaresse afgevaardig na ’n kongres van die Alliansie van Presbiteriaanse en Gere­formeerde Kerke in São Paulo, Brasilië, waar sy tot die hoofbestuur van die Wêreld­bond van Gereformeerde Kerke* verkies is. In die na-oorlogse jare was sy betrokke by die stuur van kospakkies na Nederland en Duitsland.

Sidebar