GRONDHERVORMING

GRONDHERVORMING. Met die be­winds­aanvaarding van die nuwe Suid-Afrikaanse regering in 1994, is ’n omvattende proses van transformasie ingelui wat uiteindelik ingrypende implikasies vir alle samelewingsverbande sou hê. Grondher­vor­ming (“land reform”) is die benaming vir daardie deel van die transformasiepro­ses wat betrekking het op die besit en benutting van grond, en wat veral ten doel het om die landbou-sektor meer verteenwoordigend van die breër bevolking te maak. Veral in die 20ste eeu is grondbesit bepaal deur ’n reeks diskriminerende wette, gebaseer op die konsep van territoriale segregasie* en die skeiding van grond- en verblyfregte tussen blank en swart. Die belangrikste hiervan was die Wet op Grondbesit van 1913, die Ontwikkelings­trust- en grond-wet van 1936 en later ook die Groepsgebiede-wet van 1950, waarvolgens swartmense in die grootste deel van die land nie wettige grondeienaars kon wees nie. Alle diskriminerende wetgewing is voor en na 1994 geskrap, en daar is met ’n grondhervormingsprogram begin wat op drie bene staan. 1. Restitusie. Dit dui op die herstel van grondregte, of finansiële kompensasie in die geval van persone of ge­meenskappe wat sedert 1913 vanweë diskri­m­inerende wetgewing van hulle grond of grondregte vervreem is. Die keerdatum vir restitusie-eise, wat aanvanklik 1998 was, is mettertyd met ongeveer twee dekades verleng. 2. Herver­deling. Hiermee word bedoel om staatsgrond of grond wat spesiaal deur die rege­ring aangekoop is, aan voorheen-bena­deelde persone en gemeenskappe beskikbaar te maak ten einde die wanbalans ten opsigte van grondbesit reg te stel. Die vestiging van ’n nuwe geslag opkomende kommersiële boere is deel van hierdie doelwit. 3. Die sekerheid van verblyfreg. Dit is die proses om deur wetgewing groter sekerheid van verblyf te gee aan mense wat op grond woon wat nie aan hulle behoort nie.

Terwyl daar suksesverhale is van opkomende boere wat die afgelope paar dekades goeie vordering gemaak het op grond wat aan hulle oorgedra is, is daar ongelukkig ook te veel gevalle waar dit nie gebeur het nie en eens produktiewe plase verwaarloos is, verval het en in onbruik geraak het.

Grondhervorming is ’n duur, komplekse en emosionele saak. Die groot uitdaging is om dit in die praktyk so toe te pas dat die kommersiële landbou asook onderlinge verhoudinge nie onherroeplik geskaad word nie. Teen 2014 is drastiese voorstelle deur regeringslui gemaak – onder meer dat (blanke) boere tot 50% van hulle plase aan werkers moet oordra – wat groot teenstand uitgelok het, veral ook vanweë voedselsekerheid wat deur so ’n stap in die gedrang gebring sou word. Intussen het ’n politieke party soos die Economic Freedom Fighters (EFF) met onrealistiese grondeise en aandrang dat grond selfs sonder vergoeding van die huidige eienaars vervreem moet word, die bloeddruk erg opgejaag. Daar kan egter nie tyfel wees nie dat sinvolle weë gouer eerder as later gevind moet word om ’n billiker verdeling van grond in Suid-Afrika te bewerkstellig.

In 2018 het pres Cyril Raaphosa aangekondig dat dit die regerende party, die ANC, se standpunt is dat die Grondwet gewysig moet word sodat grondonteiening sonder vergoeding moontlik sal word, en dat parlementere prosesse gevolg sal word om dit te laat gebeur. ‘n Ad hoc-komitee van die Parlement, wat moes vasstel hoe (en of) die Grondwet verander moet word, is oorval met derduisende pro- en anti-dokumente en die kwessie het in die Suid-Afrikaanse politiek en samelewing ‘n al hoe neteliger twispunt geword. Die NG Kerk* het in ‘n verklaring toegegee dat optrede dringend nodig is, maar die mening uitgespreek dat dit nie nodig is om die Grondwet te verander om grondonteiening moontlik te maak nie. Daar kan nie tyfel wees nie dat sinvolle weë gouer eerder as later gevind moet word om ’n billiker verdeling van grond in Suid-Afrika te bewerkstellig.

 

Sidebar