GROOT EN KLEIN KATEGISMUS VAN LUTHER

GROOT EN KLEIN KATEGISMUS VAN LUTHER (1529). In die Middel­eeuse kerk was daar by Christene* ’n ver­stommende onkunde oor die Christelike geloof*. Luther* wou iets aan hierdie onkunde doen en het in 1528 ’n reeks preke in Wittenberg oor die Tien Gebooie*, die Apostoliese Geloofsbelydenis* en die Ons Vader* gehou. Hierdie preke is in 1529 uitgegee as die “Duitse Kategismus” en het later bekend geword as die “Groot Kategis­mus”. Dit was veral bedoel vir kerklike onderrig. ’n Maand ná die verskyning hiervan volg ’n verkorte weergawe wat as die “Klein Kategismus” bekend staan, en bedoel is vir pa’s en ander op­voe­ders as onderrig aan kinders. In die tweede druk van die Groot Kategismus in 1529 het Luther ’n deel oor die bieg* (boete) bygevoeg.

Hoewel die twee kategismusse nie as belydenisskrifte* bedoel was nie, het dit algaande tog daardie karakter ontwikkel. Opvallend is die eenvoudige en nie-pole­miese styl.

Die kategismusse bestaan uit ’n uiteen­setting van die volgende: 1. Tien Gebooie; 2. Geloof (Apostoliese Geloofsbelydenis); 3. Ons Vader; 4. Doop*; 5. Nagmaal*; 6. Bieg.

Die Klein Kategismus bevat ook twee slotartikels oor oggend- en aandgebede en tafelgebede.

Die verskil in struktuur met die Heidel­bergse Kategismus* (1563) is opvallend: terwyl die Heidelberger die orde geloof-gebod-gebed volg, volg Luther die orde van gebod-geloof-gebed – ’n feit wat saamhang met die Lutherse (Kyk by: Lutheranisme) verstaan van die verhou­ding tussen wet* en evangelie*.

 

Sidebar