GROOT VERSOENDAG

GROOT VERSOENDAG (Hebreeus*: jôm kippur) op die tiende dag van die sewende maand Tisjri, was vir ou Israel* die heiligste dag van die jaar met streng voorskrifte (Lev 16; 23:26-32; Num 29:7-11). Daar is gevas* en alle werk is gestaak. Ná bepaalde persoonlike rein*igingshandelinge, het die hoëpriester* op dié dag sy volle ampsdrag aangetrek. Hy het ’n vuurpan gloeiende kole van die altaar* geneem, reukwerk daarin gegooi en dit dan in die Allerheiligste van die tempel* neergesit. Die rook het die ark* se versoendeksel verberg. Hierna het hy ’n bul as sonde­offer (Kyk by: Offers en offerandes) vir hom en sy huis geoffer, en die bloed in die Allerheiligste gesprinkel – een maal op die versoendeksel en sewe keer voor dit. Met die bok wat as sondeoffer vir die volk gebring is, is dieselfde gedoen. Hierna is die Heilige van die tempel asook die brandofferaltaar met bloed “ontson­dig”. Die volk se sonde is dan met handoplegging en skuldbelydenis deur die hoëpriester op ’n tweede bok (“sondebok”, of Asasel*-bok) gelaai wat die woestyn ingejaag is om die volk se sondes simbolies weg te dra. Ná ’n reinigingsbad deur die hoëpriester en die persoon wat die sondebok weggejaag het, het die hoëpriester weer sy ampsgewaad aangetrek en ’n reeks offers gebring. Die skrywer van Hebreërs* verduidelik in Heb 9–10 hoe Christus* as Hoëpriester van die nuwe verbond* deur sy sterwe vir die sonde, die Groot Versoendag vir altyd opgehef het. (Kyk ook: Versoen­dag, en: Feeste.)

Sidebar