GROSHEIDE, FREDERIK WILLEM

GROSHEIDE, FREDERIK WILLEM (1881–1972), studeer teologie* aan die Vrije Universiteit* (VU) te Amsterdam en is die eerste student wat daar op ’n Nuwe-Testa­men­tiese onderwerp promoveer (1908). Hy doseer klassieke tale aan ’n gimnasium (1905–1906), dien as predikant* (1907–1912), is hoogleraar in Nuwe Testament* (1912– 1953) en drie keer rektor van die VU.

Sy intreerede handel oor “Nuwe-Testa­mentiese eksegese”. Hy verwerp sogenaamde “neutrale” eksegese* en neem as uitgangspunt van gereformeerde* eksegese die aanvaarding van die Bybel* as die onfeilbare Woord van God. Hy is veral be­kend vir sy reeks deeglike kommentare op die Nuwe Testament wat hy vanaf 1922 (saam met S Greijdanus van Kampen) by die uitgewer Bottenburg lewer, en wat later deur die uitgewer Kok voortgesit word. Hy publiseer ook oor die hemeneutiek* (1926) en oor die kanon* van die Nuwe Testament (1935). Hy dien in die redaksie van die Christelijke Encyclopedie, die Gerefor­meerd theologisch tijdschrift, en is hoofre­dak­teur van Bijbelsche Encyclopaedie.

In verskillende kerklike konflikte in die Gereformeerde Kerken in Nederland het hy as bemiddelaar opgetree en hy het ’n belangrike rol as voorsitter van die Gerefor­meerde predikantevereniging gespeel. Van­af 1927 was Grosheide voorsitter van die Nuwe-Testamentiese vertaalkommissie van die Nederlandse Bybelgenootskap, en hy was intens betrokke by die 1952-vertaling van die Nederlandse Bybel.

Vir verdere lees: H Mulder 1988. “Grosheide, Frederik Willem” in: D Nauta et al (red), Biografisch lexicon voor de ge­schiedenis van het Nederlandse Prote­stan­tisme: Deel 3. Kampen: Kok.

 

Sidebar