GROTIUS, HUGO (HUIG DE GROOT)

GROTIUS, HUGO (HUIG DE GROOT) (1583–1645) begin op elfjarige ouderdom te Leiden studeer en op 16-jarige ouderdom ontvang hy ’n doktorsgraad in die regte aan die Universiteit van Orleans. Op 18-jarige ouderdom word hy die amptelike geskiedskrywer van Nederland.

Sy boek De Jure Praedae (Oor die Wet van Buit – 1604) is onder andere ’n pleidooi vir vrye handel op die oop see. Tydens 1607–1613 dien hy as “advocaat-fiscaal” (ad­junkprokureur-generaal) van Holland en word daarna regter-president van Rotter­dam.

Hy word in 1619 as gevolg van sy steun aan die Remonstrante (Kyk by: Dordtse Leerreëls) tot tronkstraf gevonnis, maar ontsnap in 1621 na Frankryk. Daar skryf hy in 1625 sy bekendste werk, De Jure Belli et Pacis (Oor die wet van oorlog en vrede), die eerste omvattende studie van die internasionale reg. Volgens hom berus die verhouding tussen mense en state op rasionale natuurwette waaraan selfs God gebind is.

Hy wyk later uit na Swede en hy word as Sweedse ambassadeur in Parys aangestel (1634–1645). Koningin Christina van Swede bied hom ’n hoë regeringspos aan, waarvoor hy bedank. Hy sterf twee dae nadat hy skipbreuk in die Oossee gely het.

 

Sidebar