GROVÉ, STEFANS

GROVÉ, STEFANS (1922–2014) is in dieselfde maand (Junie) en jaar as ’n ander bekende Afrikaanse komponis, Hubert du Plessis*, gebore, en het by dieselfde komposisieleermeester, William Henry Bell, studeer. Grové is in Bethlehem, Vrystaat, gebore en het sy eerste musiekopleiding van sy musiekonderwyseres-ma ontvang. Hy studeer aan die Suid-Afrikaanse Kollege van Musiek in Kaap­stad, werk vir die Suid-Afrikaanse Uit­saai­korporasie, en ontvang in 1953 ’n Full­bright-beurs. Hy studeer aan die Harvard-universiteit en die Longy Music School in die VSA, en doseer van 1957 tot 1972 mu­siek­teorie en komposisie aan die Peabody In­stitute in Baltimore. Hy keer na Suid-Afri­ka terug en aanvaar ’n pos aan die Univer­siteit van Pretoria. Grové se vroeë werk toon neo-klassieke beïnvloeding, en van 1983 af maak hy Afrika*-elemente deel van sy musiek – soos in Violin Sonata on African Motives. Grové was een van die eerste wit komponiste wat inheemse Afrika-musiek krea­tief ontgin en in sy werk opgeneem het. Hier vind hy ook aansluiting by NP van Wyk Louw* wie se verhalende “Afrika”-gedig, Raka, hy in ’n simfoniese gedig in die vorm van ’n Concerto vir Klavier en Orkes verwerk het (1996). Sy werk sluit operas (Die bose wind, 1983), ballet (Pinoc­chio,1988), orkes-werk, concertos en kamermusiek in. Uit Christelik-kerklike oogpunt is etlike van sy komposisies belangrik: Psalm 54 vir mezzo-sopraan, fluit en harp (1974), Psalm 74 vir mezzo-sopraan, fluit en harp (1974), Musiek vir Pase (1977), Gesang 133 en 135 (1983), Psalm 150 in Suid-Sotho (1996) en Psalm 138 vir kinderkore, drom­me, marimba en snaarinstrumente (2002). Grové het nog tot die week voor sy dood op 91-jarige ouderdom gekomponeer.

Vir verdere lees: sacomposers@up.ac.za    

Sidebar