GUTMANN, BRUNO

GUTMANN, BRUNO (1876–1966). Dat die begrip volk ’n belangrike plek inneem in die sending*, is deur veral Duitse sendelinge* en sendingwetenskaplikes be­klemtoon. Gutmann, wat in Tanzanië ge­werk het, het van die standpunt uitgegaan dat die evangelie* in stamverband verkon­dig moet word. Gedurende sy studentejare is hy grootliks beïnvloed deur Wilhelm Wundt, maar dat dit by hom gelei het tot ’n “bloed en bodem”- teologie, kan sterk be­twyfel word. Die groot bydrae wat hy gelewer het, was om die sending te rig op die mense onder wie gewerk word, hulle kultuur*, sosiale strukture en gewoontes. Die mense waaronder hy in Oos-Afrika (Tanza­nië) gewerk het, het soveel respek vir hom gehad, dat hy as hulle vader beskou is. Hoekendijk het in sy werk Kerk en volk in de Duitse Zendingwetenschap indringende kritiek teen onder andere Gutmann uitgespreek, maar dis ’n misverstand as Gut­mann se beskouings en bydrae bloot as ge­dagtes wat uit die nasionaal-sosialisme* ge­bore is, afgemaak word. In Afrika*, waar fa­milie- en stamverband uitmekaar geruk word, is die klem wat Gutmann gelê het, juis van belang. Die oorspanning van die stamverband moet egter wel gekritiseer word. (Kyk ook: Inheemswording.)

Vir verdere lees: GE Anderson en andere (red) 1994. Mission Legacies: Biographical Studies of Leaders of the Modern Missio­nary Movement. New York: Orbis.

Sidebar