HABAKUK (BYBELBOEK).

HABAKUK (BYBELBOEK). Daar is merkwaardige ooreenkomste tussen die boeke Haba­kuk en Job* met betrekking tot hulle sentrale tema, basiese struktuur en literatuursoort. Die boek Habakuk verskaf baie min historiese inligting oor die profeet* Habakuk (1:1; 3:1). Daar is aanduidings dat Habakuk ’n tempel- of kultiese profeet was weens die

oorsprong van die klag, die verwysing na die heilige tempel* in 2:20 en die gebruik van musikale terme in hoofstuk 3. Som­mige geleerdes reken egter dat bogenoem­de redes nie genoeg getuienis bied om Ha­ba­kuk as ’n kultiese profeet te tipeer nie. Die boek vorm deel van die Boek van die Twaalf*.

Historiese agtergrond: Die opskrif verskaf min historiese inligting in vergelyking met sommige van die ander profeteboeke (daar is bv geen verwysing na ’n koning nie). Uiteenlopende daterings vir die ontstaan van die boek is al deur navor­sers aangebied (tussen 701 en 170 vC). Sleu­tel­rolspelers in die boek word getipeer met nie-spesifieke terme soos “goddelose” en “reg­ver­dige” (1:4, 13; 2:4; 3:13). Die verwy­sing na die opkoms van die Galdeërs of Babiloniërs* (1:6) dui waarskynlik op ’n tydperk tussen 625 vC (die agteruitgang van Assirië*) en 604 vC (Babiloniese oorwinning by Karkemis). Baie geleerdes aanvaar dat Habakuk opgetree het tydens die bewind van koning Jojakim* van Juda* (ongeveer 609–598 vC). Die klag oor die interne ongeregtigheid (1:2-4) pas die beste in by sy bewind wat gekenmerk is deur gruweldade en onderdrukking (vgl Jer 22:13-19).

Samestelling en verdeling: Die boek Ha­bakuk word beskryf as een van die “pro­bleemkinders” onder die profetiese boeke weens verskeie probleme vir die uitlegger. Daar is veral twee uitdagings: die vertaling van 2:1-5 en die verhouding tussen Haba­kuk 1–2 en Habakuk 3. Die tweede inlei­ding in 3:1 veronderstel dat hoofstuk 3 ’n later byvoeging is. Hierdie hoofstuk ontbreek ook in ’n kommentaar wat in Qum­ran* ontdek is. Ten spyte van hierdie onse­kerhede kan Habakuk as ’n literêre eenheid gelees word. Geleerdes verdeel die boek verskillend, maar ’n moontlike verdeling is soos volg: 1:1 (Opskrif); 1:2-4 (Eerste klag); 1:5-11 (Antwoord van Jahwe*); 1:12-17 (Twee­de klag); 2:1-20 (Antwoord van Jahwe); 3:1-19 (Habakuk se gebed).

Boodskap: Habakuk se besorgdheid oor geregtigheid* plaas die boek midde-in die tradisie van ander Israelitiese* profete. In die boek word geworstel met die vraag hoekom regverdige mense moet swaarkry terwyl daar voorspoed by die goddelose is (1:2-4, 13; 3:14). Habakuk bied geen eenvoudige antwoord op hierdie sg teodisee*-vraag nie. ’n Mens moet in geloofsvertroue op God wag (2:3; 3:16). Hy sal op sy tyd en op sy manier die probleem oplos. God is aktief in die internasionale arena en selfs die magtige Galdeërs is deel van sy plan. Hoofstuk 3 getuig dat Jahwe die magtige en ontsagwekkende God is. Hy is op ’n spesiale manier teenwoordig by sy volk. Die boek begin met ’n geloofskrisis, maar eindig met geloofsvertroue (3:17-19). God se antwoord in 2:4-5 kan as draaipunt tussen die krisis en vertroue gesien word. Die boodskap van Habakuk is bekend aan die kerk* hoofsaaklik vanweë die enkele frase in 2:4 wat deur Paulus* in Rom 1:17 aangehaal word (vgl ook Gal 3:11; Heb 10:38).

Vir verdere lees: W Brueggemann 2003. An introduction to the Old Testament: The Canon and Christian Imagination. Louis­ville: Westminster John Knox Press. PA Kru­ger 1987. Die boek Habakuk. Kaapstad: NGKU. GTM Prinsloo 1999 “Reading Habak­kuk as a Literary Unit: Exploring the Possi­bilities” in: Old Testament Essays 12/3, 515-535.

 

Sidebar