HAGAR

HAGAR is die Egiptiese* slavin van die kinderlose Sara* wat sy aan Abraham* ge­gee het om namens haar ’n kind te kry (Gen 16). Hagar het swanger geword, en op Sara neergesien. God verskyn aan Hagar en beveel haar om terug te gaan en belowe aan haar ’n nageslag. Sy noem haar seun Ismael*. Hagar is die enigste vrou* in die Ou Testament* aan wie God ’n nageslag beloof het. Ná Isak* se geboorte, verhoog die spanning tussen Sara en Hagar en stuur Abraham vir Hagar weg (Gen 21:8-20). Hagar het rondgeswerf in die woestyn, waar sy en Ismael amper gesterf het van die dors. God het die kind hoor huil en Hy het ’n engel*1 gestuur, aan hulle water gegee en weer sy belofte van ’n groot nasie aan Ha­gar herhaal. Die nageslag van Hagar was die Ismaeliete*, deur wie die Moesliems* hulle verbintenis met Abraham maak. Ha­gar is nie deel van die aartsvaderfamilie nie, maar tog het God ingegryp in haar nood. Haar seun is immers ook ’n kind van Abraham. Paulus* vergelyk Hagar/Ismael en Sara/Isak in Gal 4. Hagar is hier die simbool van die verbond by Sinai*2. (Kyk ook: Beer-Lagai-Roï.)

Sidebar