HAGER, CARL OTTO

HAGER, CARL OTTO (1815–1898) het deur sy studies ’n goeie kennis van die argitektuur en die skilderkuns in Duitsland opgedoen voordat hy in 1838 na die Kaap geïmmigreer het. Hy was in Kaapstad mede-verantwoordelik vir die ontwerp van die St Mary-katerdraal in Roelandstraat en het hom twee jaar later op Stellenbosch gevestig. Hager was op Stellenbosch verantwoordelik vir die argiteksplan en toesig met die oprigting van die Evangelies-Lu­ther­se* kerkie (1854), maar het as gemeentelid slegs ’n vergoeding van £5 ontvang. Hy het hierna ’n unieke dorpsplan van Stel­lenbosch in 1859 opgestel. Hager se keerpunt was, volgens sy memoirs, 1863 toe hy versoek is om die vergroting en verbouing van die Stellenbosse NG moederkerk te hanteer, waarvan hy ook die neo-Gotiese preekstoel ontwerp het. Die ingebruikne­ming van die herontwerpte moederkerk is deur sinodegangers uit Kaapstad bygewoon wat Hager ver buite die grense van Stellen­bosch bekend gemaak het. Dit het gelei tot die ontwerp en dikwels oprigting van talle kerke: in 1864 is ’n “korrespondensie”-kerk­gebou op Clanwilliam voltooi; ook in die 1860’s het hy die Fraserburgse kerk ontwerp en die Teologiese Kweekskool* op Stellen­bosch in ’n “doepelde” verdieping omskep. Die 1870’s was die vrugbaarste dekade van Hager se loopbaan toe hy onder meer die kerkgeboue op Heidelberg (Wes-Kaap) en Caledon ontwerp en opgerig het. Benewens die vergroting van die bestaande kerkgebou op Somerset-Oos, het hy die neo-Gotie­se kerke op Ladismith, Tulbagh en Calitz­dorp ontwerp en die indrukwekkende klipkerk op Oudtshoorn voltooi – laasgenoem­de se neo-Gotiese sandsteen-preekstoel met vyf engelebeelde is van groot kuns-historiese betekenis. Van die ander kerkgeboue wat deur Hager ontwerp is, was dié op Ceres, Piketberg, Vanrhynsdorp, Kroonstad, Porterville, Willowmore en Hopefield. Sy roem en veelsydigheid is verder bevestig deur die ontwerp van die Ou Hoofgebou van die Universiteit van Stellenbosch – sy enigste neo-Klassieke skepping.

Vir verdere lees: WJ de Kock en DW Kru­ger 19862. Suid-Afrikaanse biografiese woor­de­boek, deel 2. Pretoria: RGN. SM Hofmeyr 1993. Carl Otto Hager van Stellen­bosch. Stellenbosch: Stellenbosch Museum.

 

Sidebar