HAGGAI (BYBELBOEK)

HAGGAI (BYBELBOEK). Haggai was ’n tydgenoot van Sagaria* en beide profete* propageer die herbou van die tempel* (Esra 5:1; 6:14). Die meeste geleerdes aanvaar dat Haggai in ballingskap* gebore is en later na Jerusalem* gekom het.

Historiese agtergrond: Die boek Haggai verskaf spesifieke historiese inligting oor die tyd van die profeet se optrede (1:1, 15; 2:1, 10, 20). Haggai asook Sag 1–8 het ontstaan in die na-ballingskapgemeenskap van Jerusalem wat deel was van die Persiese provinsie Jehud*. Koning Kores* van Persië* het ’n beleid van verdraag­saam­heid begin toepas in teenstelling met die Assiriërs* se beleid van onderdrukking. In 538 vC verklaar Kores dat mense vanuit bal­ling­skap na hulle geboorteland kon terugkeer (Esra 1:1-4). Kores het godsdiensvryheid toegelaat en selfs belowe om die Judeërs finansieel vir die herbou van hulle tempel te ondersteun. Die Persiese beleid teenoor ballinge is gemotiveer deur meer as goedhartigheid. Dit is waarskynlik ontwikkel om lojaliteit te versterk. Haggai gee in 520 vC (tweede jaar van koning Darius*1) op­drag dat daar met die herbou van die tempel begin moet word. Die tempel is tydens sy dienstydperk in 516 vC voltooi. In die Persiese tyd was daar konflik tussen ballin­ge wat teruggekeer het en hulle wat in Jeru­sa­lem agtergebly het (Samaritane*). Daar was godsdienstige en politieke konflik, om­dat diegene wat agtergebly het, nie deel van die “invloedryke” persone was nie. Waar­skynlik was daar ook ekonomiese kon­flik, omdat die grond oorgeneem is deur diegene wat agtergebly het (Jer 39:10; Eseg 11:15). Die teks van Haggai beklemtoon dat dit ’n tyd van droogte, peste en armoede was (1:6, 9-11; 2:15-17).

Samestelling en verdeling: In die meeste vertalings word die boek as prosa beskou, maar die Hebreeuse* Bybel* sien Haggai se boodskappe as poësie. Die meeste geleerdes verdeel die boek in vier of vyf dele. Elkeen van hierdie dele word ingelei met die woorde “die woord van die Here het deur die profeet Haggai gekom” asook ’n beskrywing van die ontstaanstyd. ’n Moontlike verdeling is soos volg: 1:1-15; 2:1-9; 2:10-19; 2:20-23.

Boodskap: Haggai bring ’n boodskap van hoop vir die na-ballingskapgemeenskap. Die tempel*1 in Jerusalem was ’n simbool van God se magtige teenwoordigheid (2:7-9). Haggai roep die volk op om hulle prio­riteite reg te kry en God se “huis” te herstel voordat hulle hulle eie huise bou (1:4, 7-9). Hy moedig Serubbabel* en die res van die volk aan om moed te skep, omdat die Here by hulle is (1:13; 2:4-5). Hoofstuk 2:10-19 beklemtoon ’n rein lewe sodat God hulle kan seën. Die boek wys op die komende heerskappy van God oor hemel en aarde, see en land; op die God wat mag het oor alle koninkryke en nasies (2:6, 21-22). Haggai werk met die ou Sionstradisie wat beklemtoon dat daar altyd ’n nakomeling van Dawid in Jerusalem/Sion* sal regeer. Hy sluit die boek af met die belofte dat Serubbabel (agterkleinkind van Dawid*) wat die tempel voltooi het, die uitverkorene sal wees (2:23). (Kyk ook: Boek van die Twaalf.)

Vir verdere lees: MJ Boda 2004. Haggai, Zechariah (NIV Application Commentary). Grand Rapids: Zondervan. PA Verhoef 1989. Die boek Haggai. Kaapstad: NGKU. W Wessels 2005. “Bridging the Gap: Haggai’s Use of Tradition to Secure the Future” in: Old Testament Essays 18/2, 426-443.

 

Sidebar