HALDANE, JAMES ALEXANDER

HALDANE, JAMES ALEXANDER (1768–1851) was ’n ryk grondbesitter in Edinburgh, Skotland. Hy was aanvanklik as ’n Baptiste*-lekeprediker met entoesiasme betrokke by evangelisasie*. As lekeprediker (en digter) het hy sterk kant gekies teen ’n verwaterde Christendom*. Hy was mede­oprigter van die Edinburgh Society for the Propagation of the Gospel at Home (1798). Nieteenstaande teenstand van die kant van politieke en kerkleiers, het hierdie Society ’n stroom van lekepredikers en kategete* op ’n nie-denominasionele en nie-politieke basis ondersteun. In 1799 het Haldane predikant van ’n onafhanklike gemeente geword, en daardeur medegrondlegger van die Kongregasionalisme* in Skotland. In 1831 is ’n unie van alle losstaande Kongre­ga­sio­naliste-gemeentes gevorm. Sodoende wou hulle die evangeliese godsdiens bevor­der asook die burgerregte van Protestantse* andersdenkendes handhaaf en verruim. In 1808 het hy die kinderdoop* verwerp en ’n Baptis geword. In sy geskrifte vóór 1810 het hy gekonsentreer op die Bybelse* model vir ’n herstelde kerk*. Hierdie fokus is duidelik in die titel van sy 1805-werk: A View of Social Worship and Ordinances Observed by the First Christians, Drawn from the Sacred Scriptures Alone; Being an Attempt to Enforce their Divine Obligation; And to Represent the Guilt and Evil Consequences of Neglecting Them.

Vir verdere lees: “Haldene, James Alex­ander (1768–1851)” in: HCG Matthew (red) 2004, Oxford Dictionary of National Bio­graphy. Londen: Oxford University Press.

 

Sidebar